6 dae gelede
Dís hoe jy dit maak
Grant Margeman  ~ Gallo Images

INDIEN sy kop reg aangeskroef is – op en van veld af – behoort hy by Mamelodi Sundowns sukses te behaal.

Dís van die advies wat Sundowns se Kaapse defender, Wayne Arendse, aan Grant Margeman gegee het om nes hy by Chloorkop suksesvol te wees.

Die 21-jarige Margeman is deur sy Eerste Liga-klub, Ajax Cape Town, op ’n langtermynkontrak aan die Brazilians verkoop.

Doelwitte

Dis welbekend dat Ajax en Sundowns ’n goeie sakeverhouding het. Voormalige Ajax-spelers soos Clayton Daniels en Franklin Cale het ook reeds die pad gestap.

Volgens Arendse, wat al agt seisoene op Sundowns se boeke is, moet die jongeling van Bonteheuwel seker wees van sy doelwitte en wat hy in die lewe wil bereik.

“Toe ek hier aankom, was dinge baie, baie moeilik,” verklap die 35-jarige voormalige Santos-speler.

“ ’n Nuwe klub, nuwe omgewing en ’n nuwe kultuur ... Aan die begin was dit ’n challenge, jy weet.

“Maar kyk, elke sokkerspeler droom daarvan om vir die top-klubs in die top-ligas speel. Dís wat ek gedurig vir myself gesê het.

“Ek het vasgebyt en hard gewerk,” voeg Arendse by.

“Dis ook belangrik hy (Marge­man) weet waarom hy by die klub is.

“Hy moet bereid wees om sy game op ’n heel ander level te improve en nie op sy louere rus nie.

“Hy sal veral mentally baie sterk moet wees, want hy gaan weg wees van sy familie en support structure.

“Gelukkig vir my het ek net getrou toe ek na Sundowns skuif. My vrou was daar om my te ondersteun – veral toe dinge aan die begin nie goed verloop het nie.

“Dis belangrik dat hy vir homself goals stel en hom met positiewe mense omring wanneer hy hier is.

“Hy moet probeer om ’n gesonde leefstyl en uitkyk weg van die veld te handhaaf.

“Grant moet doen wat van hom verwag word. Hy sal baie gedissiplineerd moet wees.

“Kyk, daar is geen twyfel oor sy talent nie.

“Maar dis nie altyd waaroor dit gaan nie. Ek dink indien sy kop reg aangeskroef is, sal hy ’n sukses kan maak,” meent Arendse.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters