7 dae gelede
Diens vir coach oor naweek
Wyle Jeff Isaacs  ~ Foto Verskaf

ALLES dui daarop dat wyle Jeff Isaacs (66), ’n gesoute amateur-sokkerafrigter, se gedenkdiens Saterdag by die Stephen Reagan-sportterrein sal plaasvind.

Die Isaacs-gesin het Son ingelig dat hulle nog wag op bevestiging van die Mitchells Plain LFA vir die gebruik van die Oval.

“Ons wag op toestemming om vas te stel watter tyd ons die veld kan gebruik,” vertel Isaacs se oudste seun, Dominic, wat voorheen vir klubs soos Kaizer Chiefs, Ajax Cape Town en Bloemfontein Celtic uitgedraf het.

“Ons is nie seker van die tyd nie, maar ons kyk na so tussen 11 en 12 die middag.”

Jeff het Sondag weens ’n swak hart in die Mitchells Plain-hospitaal gesterf.

Sy heengaan is ’n enorme verlies vir Kaapse sokkergemeenskap omdat Jeff alles in sy vermoë gedoen het om jong talent te ontgin en ’n regverdige kans te gee.

Hy was ’n un­sung hero wat nooit vir vergoeding gevra het nie. Alles wat hy gedoen het, was vir die liefde van die game en die breë gemeenskap.

Hy was ook iemand wat nie doekies omgedraai het nie.

Boebie Cassiem, sy jare lange vriend en vennoot in die Sports Stepping Stone-projek, het gesê hy het ’n “familielid” verloor.

“Hy was die enigste een wat my 90-jarige ma op die kop kon soen, want hy was soos my broer.

Oplei

“Jeff was ook betrokke by talle feeding schemes in die gemeenskappe. Hy het nie gepraat nie, maar gedien.

“Ek onthou toe ons die gevangenes moes oplei tydens die 2010 World Cup hoe excited hy was om sy kennis met hulle te deel.”

Jeff word op 23 September uit die Christ the Re­deemer Anglikaanse Kerk begrawe. Hy word deur sy vrou, Patsy, en drie seuns oorleef.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters