13 dae gelede
Dié vier kan mos spark
Babar Azam  ~ Getty Images

PAKISTAN se krieketspan is beroemd (of berug?) vir sy onvoorspelbaarheid.

Hy en die Wes-Indiese Eilande is bekend daarvoor dat hulle die een dag skitterend kan wees en die volgende dag onbeholpe.

Pakistan moes die afgelope dekade sy tuiswedstryde in die Verenigde Arabiese Emirate speel weens vrese vir terreuraanvalle. Hy pak Suid-Afrika egter vanaf 26 Januarie tuis in ’n reeks van twee toetse en drie eendagwedstryde.

Daar is talle spelers in Paki­stan se geledere vir wie Mark Boucher, die Protea-afrigter, planne sal moet beraam.

Eerste op die lys van gevaarmanne is Babar Azam (26).

Dié kolwer speel deesdae die rol wat Younis Khan (nou die span se kolfafrigter), Mohammad Yousuf en Inzamam-ul-Haq voor hom gespeel het.

Hy speel aantreklike houe en spog met ’n kolfgemiddeld van 67,6 in sy laaste 6 beurte. Net 2 van sy 29 toetse tot dusver was in Pakistan en hy het in elk ’n honderdtal aangeteken.

Sy stryd met Kagiso Rabada, die Proteas se sternaatbouler, behoort die monde te laat water.

Die feit dat Mohammad Riz­wan vir Sarfaraz Ahmed uit die paaltjiewagter-posisie hou, sê baie van die 28-jarige se vermoëns. Hy is ’n aanvallende kolwer met 6 vyftigtalle in sy 11 toetse teen ’n gemiddeld van 39,2. As hy sy oog inkry, kan hy in die laer middelorde ’n gevaar inhou.

Die hotklou-naatbouler Shaheen Afridi (20) is in sy derde seisoen van internasionale krieket.

Bestendig

Hy het reeds in die 2018-’19-seisoen in Suid-Afrika goed gevaar teen die Proteas. Hy kan ’n handvol raak as die Pakistanse kolfblaaie omgekeerde swaai lewer.

Die bybreekbouler Yasir Shah (34) het 227 toetspaaltjies agter sy naam. As hy bestendig is, sál die Proteas hul hande vol hê met hom.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters