12 dae gelede
Dié ses skole tree aan vir Twizza
Talentvol: Meisie-atlete in aksie in die Twizza Super School Series.  ~ _TOBIAS GINSBURG

’N INDRUKWEKKENDE lys van meisieskoolspanne gaan Saterdag 23 Oktober in die Groenpunt-atletiekstadion in Kaapstad vir die Twizza Super School Series aantree.

Spanne van die Hoërskool La Rochelle (Paarl), Hoër Meisieskool Paarl, Hoërskool Parel Vallei (Somerset-Wes­), Hoërskool Bellville, Hugenote Hoërskool (Wellington) en HTS Drostdy (Worcester) is gretig om hul stempel by die byeenkoms af te druk.

Die Twizza Super School Series is in 2019 bekendgestel en het vinnig ’n hoogtepunt op die skole se atletiekkalender geword.

Die duidelike doel voor oë is om SA se beste atletiekskool te kroon!

Die wenskool sal vir een jaar spogregte hê.

Pret

Leah Winter (16) van die Hoër Meisieskool Paarl sê die Twizza Super School Series is ’n uitstekende geleentheid vir jong atlete om hul talent ten toon te stel.

“Dit is ook ’n gulde geleentheid vir atlete om pret te hê terwyl hulle aan sterk kompetisie blootgestel word. Ek sien baie daarna uit om weer ’n wedloop te kan hardloop ná so ’n lang tydperk.

“My doel is om my persoonlike beste tyd vir die 400 m- en 100 m-hekkies te hardloop. My langtermyndoelwit is om my SA kleure te verwerf en my land te verteenwoordig.”

Celeste Louw (16) van die Hoërskool Bellville meen die Twizza Super School Series gesonde mededinging aan atlete bied.

“Dit is ’n kompetisie waarin atlete by mekaar leer en saam groei,” sê sy.

“Atlete kan hul vaardighede teen ander atlete uit ander streke toets.

Fokus

“Ek sien uit daarna om nuwe atlete te ontmoet, nuwe­ vriende te maak, nuwe­ doelwitte te stel en by ander te leer.”

Louw fokus op die 100 m, 200 m en verspring.

“Die Twizza Super School Series is ’n wonderlike ini­siatief van Twizza om atletiek weer lewendig te maak,” sê Jo-Éke Haas (16) van HTS Drostdy.

“Ek gaan aan die 100 m en 200 m deelneem en my doel is om my persoonlike beste tye te oortref.

“Ons skool fokus daarop om sy leerders nie net deur akademie nie, maar ook deur sport te ontwikkel.

“Ons doel is om as die beste span en skool in die land gekroon te word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters