2 maande gelede
Die Reds is terug
sadio manéFoto’s: getty images  ~ 

AL HET Liverpool nog niks bereik nie, glo sy bestuurder, Jürgen Klopp, die klub “is terug waar hy hoort”.

Klopp se brawe stelling volg nadat Liverpool sy plek in die kwarteindronde van die Champions League bespreek het.

Die Duitser sê: “Ons bepaal die peil vir LFC, dié wonderlike klub.

“Ons is nou terug op die internasionale scene van top-sokker.

“Ons almal weet tog dis waar Liverpool hoort.

“Dis waarom ek baie tevrede is met die uitslag.

“Ek het geweet ons staan ’n kans, en die spelers het dit reggekry.

“Dis absoluut skitterend.”

Die Reds, wat laas seisoen in die eindstryd van die Champions League teen Real­ Madrid vasgeval het, is steeds op koers.

Dis nadat hulle Bayern Munich met 3-1 in Duitsland geklop het.

Sadio Mané was in die kol met twee doele en Virgil van Dijk se naam pryk ook weer op die score sheet.

Joel Matip se eie doel in die eerste helfte het Bayern dus net tydelike vreugde gebied.

Aangesien Liverpool vyf nederlae agtereenvolgens in wegwedstryde in Europa gely het, is dié sege beslis ’n verligting vir Klopp.

Hy sê: “Wanneer spanne soos Manchester City, Barcelona en Real Madrid hier kom, is dit nie vanselfsprekend dat hulle sal wen nie.

“Bayern is altyd ’n ontsettende sterk span, maar ons het hulle weggehou van ons doelhok.

“Vir my is dit ’n duidelike teken: Dít is ’n prioriteit om ’n wedstryd soos dié te wen.

“My indrukke is dat ons nie onder veel druk in ons doelgebied was nie.”

Klopp sê hy is tevrede met sy span se taktiese ingesteldheid, want daar kan nie altyd net op aanvallende sokker gefokus word nie.

“Ons het afwisselend gespeel. Dít maak my baie trots, want dit beteken die spelers is wakker.” – AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters