12 dae gelede
Die perfekte leerskool
AIDEN MARKRAM  ~ _GETTY IMAGES

AIDEN Markram sê sy kort ervaring in die Indiese Premierliga (IPL) het hom waardevolle lesse geleer waaruit hy en die Suid-Afrikaanse krieketspan by die T20-Wêreldbeker-toernooi in die Verenigde Arabiese Emirate voordeel kan trek.

Markram, wat onlangs 27 geword het, is as plaasvervanger opgeroep na die Punjab Kings en het hoofsaaklik in die middelorde gekolf.

Mark Boucher, die Proteas se hoofafrigter, sal hom waarskynlik in ’n soortgelyke rol aanwend in die toernooi wat dié naweek begin.

Temba Bavuma (kaptein) se span begin sy toernooi volgende week met ’n liplek-lekker kragmeting teen Australië in Abu Dhabi.

Markram sê die kere dat hy in druksituasies in die IPL gespeel het, het hom goed voorberei vir die drukkoker-oomblikke wat hulle gereeld in WB-stryde afspeel.

“Dit was baie aangenaam en natuurlik verskil dit van hoe ander spanne te werk gaan,” het Markram vandeesweek vanuit Abu Dhabi aan die media gesê.

“Dit was lekker om uit te kom en te speel onder dieselfde omstandighede wat ons in die Wêreldbeker-stryde gaan teëkom.

Markram het by verre die meeste van sy interna­sionale krieket tot dusver as aanvangskolwer gespeel, maar sy 146 lopies in 6 beurte in die IPL is almal in die middelorde aangeteken.

Hieroor sê hy: “Om in ’n minder bekende rol te speel was vir my ’n goeie uitdaging en ek het baie geleer. Die paar weke wat ek by die Punjab Kings was, was goed vir my.

Blootgestel

“Ek weet nie of die tyd in ’n onbekende posisie my gehelp het om in my spel te groei nie, maar dit was ’n goeie ervaring. Dit was lekker om blootgestel te word aan die situasie van ’n ander posisie, onder druk geplaas te word en ’n baie goeie standaard van krieket te speel.”

Bavuma en Quinton de Kock behoort die SA beurt te open, met Markram, Rassie van der Dussen en David Miller in die middelorde.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters