4 dae gelede
Dewey wil verskil maak
nuwe job: Dewey Swartbooi coach nou die Universiteit van Johannesburg. foto verskaf  ~ 

DEWEY Swartbooi wil ’n verskil in rugbyspelers se lewe maak noudat hy as die nuwe afrigter van die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Varsitybeker-span aangestel is.

Netwerk24 berig dat Swartbooi, wat voorheen die Boland-Kavaliers afgerig het, in 2019 by Werner Janse van Rensburg gaan oorneem.

Janse van Rensburg het as afrigter van UJ bedank.

Maar nie voordat hy in sy sewe jaar by dié universiteit ’n nuwe sensasie vir Springbok-rugby (Aphiwe Dyantyi) voorberei het nie.

Vir Swartbooi dien Janse van Rensburg se goeie werk by die UJ as ’n inspirasie om nog toekomstige sterre vir Springbok-rugby te kweek.

“Ek wil ’n verskil maak. Skollie (Janse van Rensburg) het ’n Springbok en baie spelers vir die Leeus opgelewer.

Kans

“Jy rig tog af om beter te wees, om mededingend te wees, en nie net om deel te neem nie.

“Dis maar altyd in ’n mens se agterkop om die halfeindronde of eindstryd te haal,” het Swartbooi gesê.

Vir hom is die aanstelling by die UJ ook ’n groot kans nadat hy al verskeie poste ontruim het.

Sy loopbaan as afrigter van die Kavaliers het nie lank gehou nie, en by die Blou Bulle is hy in 2017 saam met ander breiers in ’n afleggingsproses die deur gewys.

Swartbooi het dié jaar weer ’n job by die Bulle – as o. 19-afrigter – losgeslaan.

Hy kry nou die kans om op ’n hoër vlak af te rig en naam te maak in Varsity-rugby.

Die UJ het dié kompetisie nog nooit gewen nie, maar het dié jaar die halfeindronde gehaal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters