2 maande gelede
Desperaat vir ’n sege
Siya Kolisi  ~ Gallo Images

SIYA Kolisi glo Saterdag se Curriebeker-kragmeting met die Lions op Ellispark gaan ’n stryd tussen twee desperate spanne wees.

Die WP-kaptein het gister in ’n aanlyn konferensie gesê die Lions gaan nét so desperaat soos sy span wees om met ’n oorwinning uit die stryd te tree.

Dis dus ’n uitge­maakte saak dat die Rooibontes nie die rooi tapyt vir die Kapenaars in Johannesburg gaan uitrol nie.

Kolisi het gister in ’n aanlyn kon­ferensie gesê: “Ja, dit gaan beslis moeilik wees, want dis twee desperate spanne wat teen mekaar gaan speel.”

Die Streeptruie se doelwit is om na die halfeindronde van die Curriebeker-kompetisie deur te dring.

“As ons in die topvier wil eindig, sal ons van nou af elke game móét wen.

“Ons wil seker maak ons speel ten minste in ’n tuishalfeindstryd op Nuweland.

“Ons beoog dus om sterk te eindig.

“Die Currie Cup is die oudste toernooi in die geskiedenis van rugby. Ons wil seker maak ons gee ons beste, nie net vir onsself nie, maar ook vir die mense van Kaapstad.”

Die World Cup-wenner sê sy span gaan dus elke game met dieselfde mentaliteit benader.

“Dit is uiters belangrik dat ons so hard moontlik speel.

“Dit maak nie saak wat die weersomstandighede gaan wees nie. Ons sal eenvoudig net dinge moet laat werk.

Fikse

“Indien die veld nat is, sal ons ons daarvolgens moet aanpas.

“Dit gaan alles wees oor die span wat die vinnigste gaan aanpas.

“Ons sien egter baie daarna uit. Die Lions is ’n fikse span wat daarvan hou om die bal rond te gooi.

“Ons gaan ons alles gee, want ons sal die game móét wen,” verduidelik Kolisi.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters