13 dae gelede
Derde rekordtyd vir Lindikhaya
LANGASEM: Lindikhaya Mthangayi wys sy slag op die baan.  ~ Adnaan Mohamed

DAAR is tans geen keer aan Lindikhaya Mthangayi nie.

Dié 40-jarige atleet van die Nedbank-atletiekklub het Saterdag met ’n besonderse vertoning in die Phoenix Uitdaag-wedloop oor 10 km vorendag gekom.

Mthangayi het die wedloop in 29 minute en 52 sekondes afgelê.

Dit was die eerste keer in ’n baie lang tyd dat ’n veteraanatleet (40+) daarin slaag om ’n 10 km-wedloop onder 30 min. in die Westelike Provinsie te hardloop.

Mthangayi se tyd het boonop die 10 km-rekord van Gert Thys oortref.

Thys is nog met 2:06:00 die SA rekordhouer in die maraton (42,2 km). Maar sy rekordtyd in die 10 km was 30:31.

Hy het dit op 1 Maart 2014 in Goodwood opgestel.

Verpletter

Mthangayi handhaaf vanjaar ’n uitstekende peil.

Hy is nou nie net die Westelike Provinsie se nuwe rekordhouer in die 10 km vir veterane nie. Hy het vroeër vanjaar ook Thys se halfmaraton-rekord in die Gun Run oor 21,1 km verpletter.

Mthangayi het daar Thys se tyd van 1:06:55 na 1:04:56 verbeter.

En dis nie al nie. Die langasem van Mqanduli in die Oos-Kaap het op 15 September ook Brian Mather se maratonrekord laat spat.

Hy het dié 39 jaar lange WP-rekord van 2:21:37 na 2:18:06 verbeter.

Volgens sy afrigter, Pine Pienaar, het sy atleet ’n ongelooflike jaar beleef.

Mthangayi se doelwit was om die rekordboeke in die 10 km, 21,1 km en 42,2 km vanjaar in die veteraanafdeling te herskryf.

Hy het dit reggekry en gaan nou ’n welverdiende blaaskans van wedlope vat.

Pienaar verduidelik: “Lindikhaya se prestasies vanjaar is uitstekend. Ons het ’n baie goeie 2019 geniet.

“Sy training het goed verloop. Hy het die Two Oceans (56 km) in 3 uur en 20 minute gehol en het 13de algeheel geëindig.

Vars

“Hy het die Peninsula-maraton gewen. Hy het die Bay to Bay oor 30 km gewen en drie WP-veteraan-rekords verbeter.

“Nou gaan hy ’n blaaskans vat van ses weke waarin hy nie aan wedlope gaan deelneem nie.

“Hy gaan net ’n bietjie altitude training doen sodat hy vars kan wees vir 2020.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters