3 maande gelede
Davids steeds nie ‘afgedank’
nog hier: Deon Davids se toekoms is op almal se lippe, maar hy is steeds by die Southern Kings. Foto: gallo images  ~ 

DEON Davids het steeds die bal onder die blad vir die Southern Kings.

Dít nadat gerugte versprei het op sosiale media dat die breier gister die trekpas sou kry.

Son het egter betroubaar verneem dat Davids steeds die Kings se breier is en dat daar moontlik eers Maandag enige besluite geneem sal word.

Gesprek

Die gewese Springbok Thando Manana, Oostelike Provinsie-spanbestuurder, het Dinsdag op sy persoon­like Twitter-rekening getwiet en gesê daar is glo ’n aanbod aan Davids gemaak.

En dat as Davids dit nie aanvaar nie, hy moontlik in die pad gesteek sou word.

Die Kings het self Dinsdag in ’n verklaring gesê hulle is wel in gesprek met Davids oor sy toekoms, maar geen melding is gemaak oor ’n moontlike afdanking nie.

Davids het immers ’n kontrak met die Kings tot Junie 2020.

Dit blyk dus dat die breier nog in beheer kan wees van die Kings se derde Pro14-seisoen.

Anders sal die konsortium hom uit sy kontrak moet koop as hy ’n ander breier wil hê.

Die vraag is natuurlik: As Davids die Kings verlaat, wie sal dapper genoeg wees om die job te vat?

Met gerugte van Davids se afdanking is die Sharks se hulpafrigter Sean Everitt se naam genoem.

Dis eintlik ’n wonderwerk dat Davids steeds in die Baai is en bereid is om die Kings te brei.

Die meeste professionele afrigters sou waarskynlik op die dag weggehardloop het by die Kings.

Met die konsortium wat dié jaar oorgeneem het by SA Rugby as die eienaars van die franchise, is daar nou eers stabiliteit op die horison.

Davids het in 2016, 2017 en 2018 sonder enige wonderlike finansiële bystand en hulpafrigters sy werk gedoen.

As die gerugte waar is, wil die nuwe eienaars met geld tot hulle beskikking ’n ander afrigter aanstel.

Met Davids se ervaring met die franchise tot nou, en die bystand van Robbie Kempson as high perform­ance-direkteur, het die nuwe eienaars eintlik ’n gedugte kombinasie op hande.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters