8 dae gelede
Davids looi spelers
swak vertoning: Ruaan Lerm probeer sy bes om die Kings in die regte rigting te dryf. Foto: Deon Ferreira  ~ 

DIT was die Southern Kings se 20ste Pro14-stryd, maar dit het meer gelyk of hulle vir die eerste keer in die reeks uitgedraf het.

Die Cardiff Blues het die tuisspan Saterdagaand in die Nelson Mandelabaai-stadion 45-12 geklop.

Cardiff is een van die reeks se beste spanne en die Kings sou altyd sukkel, maar ná ver­lede week se goeie vertoning teen Munster in George is daar baie beter van die Kings verwag.

Ongelukkig was die tuisspan nooit gereed vir Cardiff se intensiteit en kwaliteit nie.

Die Kings se breier, Deon Davids, sê hy kan niks goeds sê oor sy span se vertoning in die eerste helfte nie.

Cardiff het met vyf drieë reeds in die eerste helfte die spyker in die Kings se kis geslaan.

“Dit was maklik ons slegste eerste-helfte-vertoning wat ek nog ooit gesien.

“Ons mentaliteit en toewyding was net nie daar nie en Cardiff was net beter as ons in alle aspekte,” het Davids stoom afgeblaas.

Woema

Die Kings het wel in die tweede helfte beter vertoon, maar as gevolg van Cardiff se goeie vertoning in die eerste helfte het die tuisspan nooit regtig eintlik ’n kans gehad nie.

Davids glo van sy plaasvervangers het met ’n bietjie meer toewyding gespeel en dit het Cardiff gekeer om hul eerste-helfte-vertoning te herhaal.

“Van die plaasvervangers het ’n bietjie meer woema aan die span gegee.

“Hulle was ’n bietjie meer gefokus en toegewyd. Ek dink dit wys my net waar ek staan met sekere spelers,” het die breier gesê.

Die Kings het nog een wedstryd in die reeks teen die Cheetahs oor.

Davids is egter reeds besig om te kyk watter spelers hy gaan vrystel ná hul debuutseisoen in die kompetisie.

Die spelers sal die stryd teen die Cheetahs moet gebruik om Davids te beïndruk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters