4 dae gelede
Daryn vat dalk oor
Daryn DuPavillon  ~ Gallo Images

ANRICH Nortjé se sukses in die eerste twee eendagwedstryde teen Pakistan het dalk net die weg gebaan vir die Dolphins-snelbouler Daryn Dupavillon om vandag Nortjé se plek te neem.

Die Proteas en Pakistan is tans met een elk gelyk in die reeks van drie.

Vandag se derde ODI is dus die beslissende wedstryd in die reeks.

Temba Bavuma (kaptein) se span moet dalk as die buiteperd beskou word om dié wedstryd te wen.

Dis aangesien sy vyf beste witbalspelers – Kagiso Rabada, Quinton de Kock, Lungi Ngidi, David Miller en Anrich Nortjé – almal reeds na Indië gereis het vir vanjaar se Indiese Premierliga (IPL).

Charl Langeveldt, die Proteas se boulafrigter, het gister in ’n aanlyn mediakonferensie daarop gesinspeel dat die 26-jarige Dupavillon, wat verlede jaar in een ODI teen Australië gespeel het, Nortjé se skoene sal moet volstaan.

“Vir Anna (Nortjé) kyk ons om ’n enforcer in te bring,” sê Langeveldt.

“Iemand wat met goeie spoed kan boul – (iemand soos) Daryn Dupavillon. Ons sal ook kyk na Lutho Sipamla.

“Ons het egter nog nie ’n finale besluit oor die span geneem nie en sal waarskynlik besluit wanneer ons môre (vandag) by die veld kom.”

Langeveldt het dit ook laat deurskemer dat Heinrich Klaasen en nie die Kapenaar Kyle Verreynne nie die paaltjiewagter sal wees. Hy het wel vir sy paaltjies gekeer toe hy daaroor gepols is.

“Dis wel nie my departement nie, maar ek dink Klaasen sal waarskynlik ons paaltjiewagter wees. Bygesê, die hoofafrigter sal daaroor ’n besluit maak.”

Janneman Malan sal waarskynlik saam met Aiden­ Markram die beurt begin. Hulle sal gevolg word deur Bavuma, Rassie van der Dussen, Verreynne en Klaasen.

Staal

Onder die boulers sal Andile Phehlukwayo, Sipamla, Dupavillon, Tabraiz Shamsi en waarskynlik Beuran Hendricks die taak gestel word om die Pakistanse kolwers onder druk te plaas.

Mark Boucher (hoofafrigter) gaan moontlik vir Ke­shav Maharaj, wat op goeie peil is, ’n kans gee om sy staal in die eendagarena te toon.

Shamsi sal in so ’n geval moet plek maak. Die wedstryd begin 10:00.

PROTEA-GROEP

Temba Bavuma (kaptein), Beuran Hendricks, Heinrich Klaasen, Janneman Malan, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Andile Phehlukwayo, Tabraiz Shamsi, Jon-Jon Smuts, Rassie van der Dussen, Junior Dala, Lutho Sipamla, Wiaan Mulder, Sisanda Magala, Kyle Verreynne, Daryn Dupavillon, Lizaad Williams

PAKISTAN-GROEP

Babar Azam (kaptein), Imam-ul-Haq, Fakhar Zaman, Abdullah Shafique, Haider Ali, Danish Aziz, Asif Ali, Faheem Ashraf, Mohammad Wasim Jr, Mohammad Nawaz, Mohammad Rizwan, Sarfaraz Ahmed, Shaheen Afridi, Haris Rauf, Mohammad Hasnain, Hasan Ali, Usman Qadir

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters