2 maande gelede
Dankie vir Duminy
yster! JP Duminy klits die bal wegkant toe. Foto: gallo images  ~ 

JP DUMINY is met mening terug!

Die man wat waarskynlik die blyste hieroor is, is die kaptein van Suid-Afrika se krieketspan, Faf du Plessis.

Du Plessis het Woensdagaand in Port Elizabeth opgewonde geklink oor Duminy se kolfwerk.

Die Proteas het Sri Lanka in die vierde eendaagse wedstryd met ses paaltjies geklop.

“Ek is bly JP en David Miller het kolfkans gekry. Hulle het ons lopiejaagtog mooi afgerond. JP het baie vloeiend gekolf.

“Met hom weer in die kolflys is daar beter balans in die span,” het Du Plessis gesê.

Met Duminy op stryk voel Du Plessis baie meer gerus oor die Proteas se kolfwerk. Die Wêreldbekertoernooi vind immers later vanjaar in Engeland en Wallis plaas.

“Die kolfwerk begin nou regkom. Die bouleenheid was in die hele reeks teen Sri Lanka bestendig, maar nou bring die middelorde ook met die kolf hul kant.”

Du Plessis en Quinton de Kock het in PE – soos in die ander wedstryde teen Sri Lanka – die pas met die kolf aangegee.

De Kock (51) het sy vyfde agtereenvolgende 50-tal aangeteken. Daarmee ewenaar hy die SA rekord.

Du Plessis het 43 lopies aangeteken.

Aiden Markram het vir sy 29 lopies skaf­lik gelyk voordat Duminy en Miller (25*) oorgeneem het.

Duminy het sy 31* van net 21 balle aangeteken. Hy het vier viere en ’n ses geslaan.

Met sy wegbreke het Duminy ook goed vertoon met 1/21 in vier boulbeurte.

Du Plessis wil in die Wêreld­bekerwedstryde hê Duminy en ’n veelsydige speler, heel waarskynlik Andile Phe­hlukwayo, moet saam 10 boulbeurte kan afstuur.

Skuiwe

Môre word die vyfde en laaste wedstryd in Kaapstad gespeel. Du Plessis glo die Proteas sal dit 5-0 maak.

“Ons sal nóg ’n paar skuiwe vir dié wedstryd maak, maar ek sien daarna uit om voor die Nuwelandse skare te speel.”

Die wedstryd begin 13:00 en word op DStv-kanaal 202 en SABC3 uitgesaai.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters