7 dae gelede
Damons sê hy is reg vir PSL by Sun City
Gregory Damons  ~ Theo Jeptha

DIE plaaslike Chilli Boys-ster Gregory Damons sê hy is reg vir Sun City as die Premier­liga (PSL) besluit om die seisoen daar te gaan voltooi.

Volgens Damons brand almal by Chippa om weer op die veld te kom en hulle kan nie wag om soos die groot Europese ligas aan die gang te kom nie.

Met die Duitse Bundesliga wat verlede week agter geslote hekke afgeskop het en die ander groot ligas se spanne wat weer begin oefen te midde van social distancing-reëls, blyk dit dat die PSL nie ver agter is nie.

Damons sê hy mis die span, want dis darem nie maklik om so op sy eie te oefen nie.

“Ek kan regtig nie wag om aan die gang te kom nie.

“Om so by die huis te oefen is nie meer so lekker nie. Dit sal lekker wees om weer op die veld te kan hardloop,” sê Damons.

Veilig

Volgens TimesLive word die vakansieoord Sun City in die Noordwes-provinsie gesien as die plek waar al 32 Suid-Afrikaanse topspanne (16 van die PSL en 16 van die NFD) bymekaar kan kom om die seisoen te kan voltooi.

Damons sê as dit veilig genoeg gedoen kan word, sien hy nie baie fout daarmee nie.

“Ek en die res van die span wil graag die seisoen voltooi. Ek dink dit is veral belangrik om promosie en relegasie uit te klaar vir volgende seisoen.”

As al die spanne wel in een of twee stadions gaan speel, sal daar geen ondersteuners wees nie.

Volgens Damons is die ondersteuning iets wat in dié spesiale geval eers opsy geskuif moet word.

“Almal weet hoe belangrik ondersteuning kan wees in tuiswedstryde en veral wanneer groot spanne speel, maar in hierdie geval dink ek nie ons sal dit soseer mis nie.

“Almal gaan meer daarop gefokus wees om die seisoen te voltooi.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters