5 dae gelede
Damian op bank
Warrick Gelant  ~ Gallo Images

DAMIAN Willemse gaan Saterdag as veelsydige impakspeler van die bank aangewend word.

Dít is wanneer die Stormers in ’n United Rugby Cham­pionship (URC)-kragmeting met Zebre in die Cape Town Stadium kragte meet.

Die 23-jarige, wat sedert 2018 in 12 toetse vir die Bokke uitgedraf het, is op heelagter in die Springbokke se beginspan teen Wallis ingespan.

Speelkans

Die boorling van die Strand het ongelukkig vroeg in die toets teen die Rooi Drake harsingskudding opgedoen. Al het hy van sy harsingskudding herstel, het hy nie verder speelkans op die Bokke se jaareindtoer van Europa gekry nie.

En met Warrick Gelant wat onlangs as die URC speler van die maand aangewys is, is dit dus verstaanbaar dat John Dobson, afrigter van die Stormers, met Gelant Saterdag van meet af in die laaste vesting wil volhard.

Saam met die spoedvrate Seabelo Senatla en Sergeal Petersen spog die Kapenaars met ’n uiters gevaarlike agterste driehoek met hope spoed en vaardighede. Hulle kan boonop ook nog op die nommer van Leolin Zas ook druk.

Die opwindende Manie Libbok gaan saam met Stefan Ungerer as skakelpaar ingespan word.

Dobson kon dit dalk oorweeg het om Willemse op binnesenter langs Libbok in te span. Die coach het egter besluit om eerder vir Dan du Plessis en Ruhan Nel saam in die middelveld te kies.

Salmaan Moerat en Marvin Orie, wat ook saam met die Bokke op toer was, gaan Saterdag in die Kapenaars se beginspan ’n gedugte slotpaar vorm.

Die vaste vyf word met die kragtige voorry van Neethling Fouché (vaskopstut), Scarra Ntubeni (haker) en Brok Harris (loskopstut) voltooi. Evan Roos (agtsteman) vorm ook ’n puik lostrio saam met Willie Engelbrecht en Junior Pokomela.

’n Moontlike beginspan vir die Stormers teen Zebre is: Warrick Gelant, Seabelo Senatla, Ruhan Nel, Dan du Plessis, Sergeal Petersen, Manie Libbok, Stefan Ungerer, Evan Roos, Willie Engelbrecht, Junior Pokomela, Marvin Orie, Salmaan Moerat, Neethling Fouché, Scarra Ntubeni, Brok Harris.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters