7 dae gelede
Crowie se Maties wil Top-8 haal
Desmond Crowie  ~ Mark Ward

DIE volgende doel nou is Varsity Football se Top-8.

Só het Desmond Crowie, afrigter van die Universiteit Stellenbosch se sokkerspan, gesênadat die Maties hul plek in die Wes-Kaapse Tweede Liga bespreek het.

Crowie se span het onlangs promosie na die Tweede Liga gewen deur onder die top-twee van die Derde Liga se Play-offs in Kaapstad te eindig.

Die span van die Eikestad het saam met Black Cats van George na die Tweede Liga deurgedring.

Die kompetisie begin later vandeesmaand.

Die Maties het die laaste paar seisoene hul stempel behoorlik in Varsity-sportsoorte soos rugby, netbal en krieket afgedruk, maar kon tot dusver nie veel in sokker uitrig nie.

Saamstel

Nou wil Crowie dinge begin verander.

“Noudat ons in die Tweede Liga speel, kan meer spelers die kans kry om hul spel te ontwikkel.

“Hulle neem nou op ’n hoër vlak deel,” het Crowie gesê.

“Ons sal dus nou ’n span kan saamstel wat veel meer kompeterend in die Varsity-reeks kan wees.

“Ons behoort nou ’n beter kans te staan om die Top-8 te haal.”

Ingevolge die kompetisie se reëls sal die Maties egter eers die Suid-Afrikaanse Universiteite-Sokkervereniging se Afdeling A moet wen om plek te kry in die Varsity Football-reeks.

Crowie het gesê hy en sy spelers sien uit na die nuwe uitdaging.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters