26 dae gelede
CPUT steeds in verwoestende bui
PUNTE: CPUT se Ché Klaasen beur oor vir sy drie teen TUT  ~ Varsity Cup

DIE rugbyspan van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (CPUT) het gisteraand op Loftus Versfeld sy segetog in vanjaar se Varsity Shield (VS) voortgesit deur die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) met 54-20 kaf te draf.

Die Tekkies is die huidige houers van die VS en lyk in dié stadium nie baie lus om dié status te verander nie.

Die Kapenaars het gister in die laaste kwart ’n bietjie stoom verloor, maar Alastair Theys (hoofafrigter) en Jerome­ Paarwater (hulpafrigter) sal in hul noppies wees met hul span se 20 punte in vier wedstryde.

Hulle keer vandag terug na Kaapstad om die batterye te herlaai voordat hulle op 2 Mei teen die Universiteit van KwaZulu-Natal te staan kom.

Die Tekkies was nes in hul vorige wedstryd – ’n 109-6-oorwinning oor die Durban-Universiteit vir Tegnologie (DUT) – wéér in verwoestende bui.

Hulle het uit die staanspoor hakskene vir die manne van Pretoria gewys. ’n Aanduiding van hul oorheersing was die feit dat hulle ná 20 minute se spel reeds ’n punt per minuut aangeteken het.

Daarenteen kon TUT met net twee strafdoele in dié tyd antwoord.

Die haker Siyasanga Ngubelanga, wat teen DUT drie drieë in die eerste helfte gedruk het, het dit dié slag opgevolg met twee. Hy het nou al ses drieë in die toernooi gedruk.

Hoewel TUT die oorhand in die skrums gehad het, het die Tekkies alle ander aspekte van die eerste helfte oorheers en het gaan lemoene nuttig met die telling op 37-6.

CPUT kon ná die rustyd net twee drieë druk. Dalk het vier wedstryde in die bestek van nege dae sy tol begin eis.

Sesona Macala, die Tekkies se sterk agtsteman, is as die speler van die wedstryd aangewys.

Puntemakers:

CPUTdrieë: Siyasanga Ngubelanga (2), Sesona Macala (2), Ché Klaasen, Asisipho Malotana, Nathan Nkutu, Anenceba Salman; doelskoppe: Feghon-Leigh Snyders (3), Imibongo Vabaza; strafdoel: Snyders, Vabaza

TUTdrieë: Handro Horn, Lusanda Xakwana; doelskoppe: Xakwana (2); strafdoele: Xakwana (2)

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters