Verlede maand
CPUT skop af
KAPTEIN: Lunathi Nxele­ in aksie in die Varsity Shield-eindstryd.  ~ Asem Engage

DIE Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (CPUT) se verdediging van sy Varsity Shield (VS)-titel skop vanaand in Bellville af.

Hy kom dan in die CPUT Sports Stadium teen die Walter Sisulu-Universiteit (WSU) te staan.

Volgens die span se kaptein, die senter Lunathi Nxele, is die spelers oorgehaal om vanjaar weer goed te vaar.

Dis nou ten spyte daarvan dat Ricky Petersen (hoofafrigter) en Rito Hlungwani (hulpafrigter) nie meer by die span betrokke is nie.

Verloor

Petersen sou aanvanklik in die UWK-afrigtingspan gedien het, maar dit het nie uitgewerk nie. Hlungwani brei nou die Stormers se voorspelers.

CPUT het ook die dienste van verskeie staatmaker-spelers verloor. Ralton October, Jurick Lewis, Ameer Hendricks, Jeandré Coetzee en Keadon Consul draf vanjaar nie weer vir die Tekkies uit nie.

Alastair Theys en Jongi No­kwe is nou die breiers.

Nxele, wat die span weer lei, sê: “Die voorseisoen was taai, veral met die nuwe bestuur.

“Ons het baie aandag aan ons fiksheid gegee, maar krediet aan die nuwe breiers: Hulle het nie te veel verander nie, maar het sekere aspekte van ons spel verfyn en ons fokus nou daarop om ’n klinieser span te wees.

“Ons het wel ’n paar van ons sterre verloor, maar dis rugby. Ons het manne verloor, maar ook great manne ingekry; jong, opwindende spelers wat honger is om sukses te behaal.”

Die Tekkies kan volgende jaar in die prestigeryke Varsity Cup (VC) wees as hulle vanjaar weer ’n goeie seisoen beleef.

Hulle sal egter met die Nelson Mandela Universiteit moet meeding om ’n plek. Die VS-span met die meeste punte in die 2019-’20-seisoen kry promosie na die VC.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters