2 maande gelede
Covid-19 stuit albei Superrugby-aanspraakmakers
Jake White  ~ Getty Images

DIT is ’n uitgemaakte saak dat die Bulls as die Superrugby Unlocked-kampioen gekroon gaan word.

Covid-19 het gister weer toegeslaan toe Saterdag se Superrugby Unlocked game tussen die Stormers en die Sharks afgelas moes word.

SA Rugby (Saru) het in ’n verklaring bevestig die Sharks se vaskopstutte is positief getoets vir die corona-virus.

Jake White (afrigter) se Bulls-span het ná vyf wedstryde net een nederlaag en is met 19 punte bo-aan die Superrugby Unlocked-puntelys.

Die Stormers en die Sharks (17 punte) het elk ook net een uit hul vyf games verloor.

John Dobson (afrigter) se Stormers is tweede op die puntelys.

Versigtig

Saru het die spelers en spanbestuur gemaan om streng Covid-19-nakomingsmaatreëls in te stel om die risiko van verspreiding te verlaag.

Dit is reeds die derde kansellasie van ’n wedstryd in vanjaar se Superrugby Unlocked-kompetisie. Die Lions se games teen die Cheetahs en die Pumas is ook gekanselleer.

“Die spelers en bestuur word versoek om uiters versigtig te wees in hul sosiale betrokkenheid,” het Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, gister gesê.

“Dit verg net één onverskillige interaksie deur ’n enkele speler om ’n uitwerking te hê op 45 ander spelers, die spanbestuur, die skedule en moontlik die bestemming van die titel.

“As fiks, jong atlete kan spelers maklik dink hulle is immuun teen infeksies en vry van siektes wat hulle kwesbaar maak.

“Maar ’n positiewe toets vir een van hulle kan groot gevolge hê.

Aangeskuif

“Ek vertrou dat die spanbestuur dié boodskap daagliks aan hul spelers sal oordra,” het Roux gesê.

Die kragmeting tussen die Pumas en die Bulls, wat vir Vrydagaand in Pretoria beplan word, is ter wille van die welstand van die spelers tot Saterdag aangeskuif.

Die afskoptyd moet nog bevestig word.

Die Pumas se groep het laas week self verskeie positiewe toetse opgelewer.

Hulle sal môre weer getoets word.

Die uitslae van die Pumas se toetse sal Vrydag bekend wees.

Dit sal die spelers darem tyd gee vir ’n oefensessie ná 10 dae in isolasie voordat hulle Saterdag op Loftus Versfeld teen die Bulls te staan kom.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters