13 dae gelede
Covid-19 kniehalter straks IPL
IN GEDRANG: Covid-19 lê tans die IPL lam.  ~ Foto Verskaf

VANJAAR se Indiese Premierliga (IPL) se voortbestaan is tans ernstig in die gedrang.

Dít volg nadat minstens twee spanne gister Covid-19-positiewe uitslae van spelers en personeel gekry het.

Indië gaan tans vreeslik swaar gebuk onder die pandemie met meer as 360 000 mense wat luidens statistieke gister positief getoets het.

Drie lede van die Chennai Super Kings-span – die uitvoerende hoof, K. Viswanathan, die boulafrigter L. Balaji, en ’n busskoonmaker – is positief getoets vir Covid-19.

Vraag

Balaji, ’n voormalige Indiese snelbouler, was Saterdag teenwoordig toe die Super Kings ’n naelbytwedstryd teen die Mumbai Indians verloor het.

Die span se volgende wedstryd, môre teen die Rajasthan Royals, sal egter steeds gespeel word.

Maandag se stryd is uitgestel nadat twee spelers van die sukkelende Kolkata Knight Riders ook positief getoets is.

Dit bly dus tans ’n ope vraag of die multimiljoen-dollar-toernooi te midde van dié vlaag Covid-19-gevalle voltooi gaan word terwyl die kanse van infeksie by die dag meer word.

Indië is ook veronderstel om die Wêreldbeker-toernooi vir T20-spanne in Oktober aan te bied. Dít is nou ook in gedrang.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters