3 dae gelede
Conte sien rooi oor ‘onfiks’ Sánchez
PROBLEEM: Alexis Sánchez sukkel by Inter Milan.  ~ Getty Images

ALEXIS Sánchez, weggooikind van die sokkerklub Manchester United, kry ook maar min liefde van die Inter Milan-span aan wie hy uitgeleen word.

Dit lyk asof dieselfde tipe probleme wat Sánchez by United ondervind het, in sy stint in Ita­liaanse sokker voortduur.

Die Chileen is weer knaend vir lang tye uit met beserings en daar is vrae rondom sy fiksheid en gereedheid om in die Serie A-span diens te doen.

Inter het dié naweek nóg twee punte agter Juventus geraak in die wedloop om die Serie A-kroon.

Dit volg nadat Antonio Conte (bestuurder) se span met 1-1 teen Atalanta gelykop gespeel het.

Juvé het Sondag ’n groot match teen AS Roma met 2-1 gewen om weer die voorloper in Serie A te word.

Conte is uitgevra oor hoekom hy Sánchez nie op die veld gebring het om te probeer om die game vir Inter te wen nie.

Maar die Italianer het langtand gebyt aan vrae oor die situasie met Sánchez.

Conte se vreemde bewoording oor die Sánchez-situasie was: “Julle noem Sánchez, maar laat ek julle menere iets sê: Spelers moet fiks wees om te kan speel.

Rede

“Ek is nie mal nie. So, óf ek is ’n moroon óf ek wil myself seermaak. Ek glo een plus een is gelyk aan twee. As jy een plus een probeer vyf maak, wel ...

“As ek iemand uit die span weglaat, is dit om ’n rede.

“Dis nie omdat ek hara-kiri wil pleeg of oor ek ’n mal ou is nie.”

Intussen is Sánchez nog op die boeke as ’n United-speler.

Dít kan ’n probleem vir die Old Trafford-klub raak. United wil Sánchez pos, maar dit lyk nie asof die klub veel geld vir hom gaan kry nie.

Die feit dat hy min speel, dui ook daarop dat Inter dalk nie gaan belangstel om sy skuif permanent te maak nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters