5 dae gelede
Coke Cup beloof sakke vol aksie
LADUUUMA! Robert Solomons van Woodlands United span ’n bicycle kick in teen D&G Orient.  ~ Peter Abrahams

DIE tafel is gedek met ’n interessante spyskaart wanneer die laaste agt spanne mekaar in die prestigeryke uitklopkompetisie van Safa Cape Town se Coke Cup die stryd aansê.

Die oorblywende elftalle wat mekaar Sondag in die kwarteindronde by die twee venues in onderskeidelik Du Noon en Khayelitsha aandurf, is Woodlands United teen Saxon Rovers en Hanover Park teen Rygersdal.

Verder bots Juventus met Dynamos FC en Lion City kruis swaarde met Clover.

Die verdedigende kam­pioene, die Woody Boys van Mitchells Plain, het in hul wedstryd op Turfhall Park in die ronde van 16 groot karakter getoon en D&G Orient met 3-0 verslaan.

Met die rustyd het Woodlands reeds met 1-0 voorgeloop, danksy ’n doel deur Jerome Mitchell.

Beklink

In die tweede helfte het die Woody Boys die oorhand geniet en ’n verdere twee doele aangeteken.

Therlo Matthays en Keagan Tromp was in die kol om dit 3-0 te maak.

Intussen het Saxon Rovers ook op Turfhall Park ’n oorwinning met 4-1 oor Lavender Hill beklink.

Courtney Smidt, Dale April, Giovanni Philander en Kwanele Mfeketo het almal die nette laat raas.

In die ander wedstryde het Hanover Park met 3-2 met Two For Joy klaargespeel, terwyl Rygersdal South End met 6-1 verneder het.

Die halfeindstryde vind op 3 Oktober op Westridge in Mitchells Plain plaas, terwyl die eindstryd waarskynlik weer in die Athlone-stadion sal plaasvind.

Die finaal is vir 16 Oktober geskeduleer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters