Verlede maand
Cobras kort dissipline
KING COBRA: Tony de Zorzi in aksie in die T20-uitdaagreeks.  ~ Getty Images

DIE Cape Cobras het tot dusver nog net een van hul vier wedstryde in die KSA T20-uitdaagreeks gewen, maar ’n oorwinning oor die Lions met ’n bonuspunt kan hulle nog na die uitspeelwedstryd laat deurdring.

Hulle moet egter hoop die Dolphins klop die Titans in vandag se tweede wedstryd.

Dis onwaarskynlik, maar steeds moontlik.

Ashwell Prince, die span se hoofafrigter, sou die laaste paar dae harde woorde met sy span oor dissipline gehad het.

Die Cobras se boulers het tot dusver ’n onverklaarbare gesukkel met wydlopers gehad – iets wat hulle waarskynlik ’n paar plekke op die punteleer gekos het.

Daar was tog ’n paar ligpunte vir Prince en Tony de Zorzi (kaptein) se span.

Zubayr Hamza het ’n nagmerrieseisoen beleef voordat hy in die afgelope twee wedstryde sy peil herwin het met agtereenvolgende beurte van 57. George Linde is tans een van die voorste spelers in die reeks. Trouens, hy is waarskynlik Prince se waardevolste speler.

Siya Mahima is wel beseer, maar het op kritieke oomblikke in die reeks geboul. Sy driekuns teen die Dolphins was een van die hoogtepunte van die toernooi.

Aan die ander kant van die muntstuk sal Prince voel van die spelers wat met groot reputasies by die toernooi ingekom het, het nie hul naam gestand gedoen nie.

De Zorzi het tot dusver tellings van 39, 23, 24 en 0 aangeteken en sal voel hy skuld sy span ’n groot beurt.

Staal

Kyle Verreynne het ook belofte getoon met tellings van 29, 2, 45 en 26, maar die grote het hom ook tot dusver ontwyk.

Daar word ook meer van die veelsydige Jason Smith verwag, terwyl Nandré Burger, Janneman Malan en Hlomla Hanabe nog nie kans in die reeks gekry het om hul staal te toon nie.

Cape Cobras:

Tony de Zorzi (k), Calvin Savage, Christiaan Jonker, Corbin Bosch, George Linde, Hlomla Hanabe, Imran Manack, Janneman Malan, Jason Smith, Kyle Verreynne, Nandré Burger, Onke Nyaku, Siyabonga Mahima, Tshepo Moreki, Ziyaad Abrahams en Zubayr Hamza.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters