8 dae gelede
Cobras ‘in sak en as’
Val weer vas: Kyle Verreynne is uitgehardloop vir net 2 lopies. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

SLAANKRAG ... Dís waarskynlik die grootste element tans afwesig in die Cape Cobras se arsenaal.

Die Kapenaars het gister op Kingsmead in Durban hul tweede agtereenvolgende wedstryd van die naweek verloor.

Dié keer moes hulle die knie teen die Titans buig ná hul nederlaag met 16 lopies in Krieket Suid-Afrika se T20-Uitdaagreeks.

Ashwell Prince­ (afrigter) se span het Vrydag hul openingswedstryd teen die Dolphins met 14 lopies verloor.

Die Cobras se Janneman Malan (openingskolwer) is tans beseer en sonder sy trefkrag boaan die kolforde is daar maar min slaankrag in die kolflinie.

Gister het hulle weer gesukkel om aan die gang te kom. Zubayr Hamza, wat tot dusver onsuksesvol in die reeks as openingskolwer aangewend is, het weer misluk. Dié keer kon hy net 5 lopies aanteken.

Kyle Verreynne is vir 2 uitgehardloop, terwyl die kaptein, Tony de Zorzi (23 van 24 balle), Christiaan Jonker (16 van 20) en Jason Smith (20 van 21) gans te veel balle opgebruik het.

Net die all-rounder George Linde (37 van 21 balle, 4x6) kon die grens met reëlmaat clear in die Cobras se soektog na 149.

Lungi Ngidi (3/20), Chris Morris (2/21) en Lizaad Williams (2/25) se streep- en stadiger balle het die Cobra-kolwers keer op keer liederlik gefnuik.

Die Titans het 148/8 in hul 20 beurte aangeteken nadat hulle besluit het om te kolf.

Sibonelo Makhanya (47 van 33 balle, 3x6 en 3x4) was die Titans se beste kolwer. Hy het veral die kort grens aan die een kant van die veld geteiken en sy slog sweeps het die Cobras onder druk gesit.

Die draaiers Linde (2/23) en Imran Manack (1/16) was die Cobras se beste boulers.

Die Cobras sal nou ’n haas uit die hoed moet pluk as hulle enige kans wil staan om nog die eindstryd te haal.

Of hulle oor die slaankrag in hul groep beskik om aanspraakmakers in die kompetisie te wees, bly egter ’n ope vraag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters