2 maande gelede
Coach Kiepie Zulu
GROOT GEES: Cupido Cupido met van sy vele aandenkings.  ~ Jonathan Lestrade

’N MAN wat gebore word met sy voornaam wat ook sommer sy van is, kan maar seker wees dat dit vir die res van sy lewe mense se aandag gaan trek.

Cupido Cupido, oftewel Kiepie Zulu, is vandag se held van toeka by wie Son gaan kuier het vir ons weeklikse insetsel “Legendaries”.

Cupido is natuurlik bekend vir die feit dat hy Boland in 1988 na die gesogte SA Cup teen die WP in Athlone gelei het. Verder was hy die afrigter van die laaste Saru-span voor eenwording.

Speeldae

Die nou 72-jarige oud­onderwyser woon steeds in Wellington en hy word nog gereeld by rugbywedstryde en -gesellighede gesien.

“In my speeldae was ek twee of drie jaar uit rugby as gevolg van ’n besering aan my gesig. Ek het my van toe af op afrigting toegespits,” vertel Cupido.

“Ek het vir Westerlies agsteman gespeel en by Berg­rivier Hoër in Wellington afgerig. Ek het baie sukses met daai span behaal en toe daar in 1987 ’n vakature as hoofafrigter van Boland Saru­ ontstaan, het Jackie Abrahams my gebel en gevra of ek die span wou afrig.

“In ’87 was daar baie groot name in daai span. Hier praat ek van manne soos Randy Marinus, Gary Boshoff, Nazeem Moerat en Kaballie (Francois Davids).

“Hulle het net motivering ontbreek, juis omdat meeste van hulle aan die einde van hulle loopbaan was.

“Ons het egter in ’87 die 1986 SA Cup-kampioen, Kwaru, in ’n vriendskaplike wedstryd geklop.”

DIE BOLAND-MANNE: Coach Kiepie Zulu (regs agter) langs Francois Davids, vandag die adjunkpresident van Saru.

Hy vertel dat 1988 vir hom ’n jaar was om van voor te begin bou, juis omdat manne soos Marinus en Moerat uitgetree het en Boshoff UWK toe is.

“Kaballie was ook al naby aan die einde van sy loopbaan, maar ek het geweet ek kan sy ervaring gebruik om die ander te motiveer en te inspireer. Iemand soos Jossie Ontong het ’n beduidende rol in die agterlyn gespeel en hulle was die middelpunt van daai span.

Genie

“Ek het ook ’n generaal op losskakel gehad in Silvin ‘Ballie’ Isaacs. Hy was eintlik ligjare voor almal. Hy het ’n uitstekende kicking game gehad en die cross kicks wat hulle vandag doen, het hy al in die 1980’s gedoen.

“Isaacs het manne soos Angus Lewis en Jeff Runelli baie in spasie gesit. Hy was eintlik ’n genie.”

Ons is nog besig om oor 1988 te gesels toe Cupido nog twee rugby visitors kry. Almal gesels saam.

Die liefde van Kiepie Zulu se lewe, Marina, is baie gasvry en bederf ons met lekker koeksisters, hoenderpaaitjies en drinkgoed. Hy straal van trots toe hy ons vertel dat hulle Woensdag hulle 47ste huweliksherdenking gevier het.

“Ons Boland-bus het op die N1 gebreek op pad Ath­lone Stadium toe,” hervat hy die gesprek. “Ons moes toe stuk-stuk ryloop en daar aangekom net so voordat die wedstryd teen die WP moes begin.”

Oorskadu

“Yagya Sakier was die spil waarom hulle spel gedraai het. Ons moes hom agter die voordeellyn stop en dit het hulle hul momentum ontneem.

“Dan het ons Angus Lewis daai dag op die vleuel gehad. Hy het BA (Bernard Adams) daai dag oorskadu en jy moet onthou dat BA hulle game-breaker was.

“Ek dink ook Fagmie Solomons het daai dag ’n paar geleenthede gemis, terwyl Silvin Isaacs se kicking game in die kol was. Jossie Ontong het ook ’n opportunity gesien en ’n intercept try ge­score,” onthou Cupido.

Hy sê in 1989 het hy die geleentheid gekry om die Saru Platteland-span af te rig voordat hy een oggend in 1990 ’n oproep gekry het.

“Sas Bailey het my gebel en my gelukgewens. Ek was oorweldig en ek moet erken, baie trots. Allister Coetzee was kaptein en ek was toe ook die laaste Saru-afrigter voor eenwording.”

GROEN-EN-GOUD: Cupido (links in middelste ry) as Saru-afrigter.

Hy het later ook die SA sewesspan na Punta del Este in Uruguay gelei.

“Manne soos Stanley Raubenheimer was in daai span. Hy was sommer baie goed. Springbokke soos Rudolf Straeuli en Christiaan Scholtz was ook daar.”

Cupido was van 1998 tot 2000 die CEO van SWD en het sodoende die eerste CEO van kleur in die nuwe Saru geword.

Hy het later drome gedroom van ’n nasionale sewes-akademie en die idee aan baie invloedryke rolspelers voorgelê. Dit het egter nooit gerealiseer nie.

Vandag is daar wel ’n SA sewes-akademie in Stellenbosch, maar Cupido is versigtig om te sê dis sy brainchild.

So, vanwaar die bynaam Kiepie Zulu?

“Kiepie is kort vir Cupido, terwyl vriende my destyds Zulu gedoop het omdat ek donkerder as hulle was en glo ook soveel guts soos ’n Zulu gehad het,” vertel hy laggend.

Cupido en Antie Marina se vyf kleinkinders hou hulle nou besig en hulle is baie trots op hulle kinders, Lana, Jolene, Clinton en Mark.

KIEPIE ZULU SE BESTE XV-TAL: Ivor Myburgh, Desmond Kramer, Godfrey Simmons, Hennie Konstabel, Martin Abrahams, Silvin Isaacs, Ju­lian Smith (o/k), Clive Thomas, Jimmy Moses, Randy Marinus, Salie Fredericks (k), Temba Ledwaba, Lucky Mange, Brother Khan, Gibba Davids.

RESERWES: Trevor Adams, Yusuf Louw, Yusuf Davids, Francois Davids, John Cupido, Gabriel Noble.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters