8 dae gelede
Cloete bedank Warriors se fiksheidsman
spiere! Gihahn Cloete vier sy honderdtal. Foto: gallo images  ~ 

DIT is op dae soos Vrydag dat die fiksheidsman in die Warriors se krieketkamp waardeer word.

Drikus Saaiman was veral gedurende die voorseisoense voorbereiding nie die gewildste man onder die Warrior-spelers nie.

Hulde

Hy laat die manne dan behoorlik sweet, maar later in die seisoen is dit ’n ander storie wanneer hulle vir hom dankie sê. Sommer baie dankie.

Gihahn Cloete het Vrydagaand in die Paarl hulde gebring aan Saaiman toe sy fiksheid in kwaai hitte op die proef gestel is.

Cloete is as die speler van die wedstryd aangewys vir sy pragbeurt van 111 lopies teen die Cape Cobras in die eerste One Day Cup-wedstryd van die seisoen.

Die linkskolwer was byna vir die volle duur van die wedstryd op die veld.

Eers het hy en sy spanmaats op die warmste tyd van die dag vir 50 boulbeurte veldwerk gedoen.

Toe het hy die War­riors se kolfbeurt saam met die jong Matthew Breetzke geopen en sy paaltjie eers in die 42ste boulbeurt verloor.

Cloete het sy lopies van 127 aflewerings aangeteken in ’n puik kolfbeurt waarin hy 11 viere geslaan het.

Sy beurt was deurslaggewend in die sege, maar Cloete was eerder vol lof vir Saaiman en die minder ervare Breetzke se bydraes.

Breetzke het 57 lopies aangeteken. Cloete sê sy vennoot se vloeiende kolfwerk het hom gehelp om sy voete te vind.

Cloete dink Breetzke was aanvanklik meer op dreef as hy en sê Breetzke het gesorg dat die Warriors se kolfbeurt momentum kry.

“Sinethemba (Qe­shile) en Sisanda (Magala) het teen die einde ook baie goed gekolf.

“Gelukkig het dinge reg uitgewerk vir ons.”

Die Warriors se kaptein, Jon-Jon Smuts, was vol lof vir Cloete se kolfwerk, maar ook vir die jong spelers s’n.

Qeshile, Thomas Kaber en Onke Nyaku het die eerste keer in ’n eendaagse wedstryd vir die Warriors gespeel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters