5 dae gelede
Cityrun is virtueel
Elroy Gelant.  ~ BOXER-ATLETIEKKLUB

DIE land se beste langasems gaan op Nasionale Erfenisdag vir die Joburg 10 K Cityrun Virtual Edi­tion aantree.

Die wedloop word op Vrydag 24 September van 05:00 tot 12:00 virtueel aangebied.

Dit beteken dat deelnemers hul eie 10 km-roete op enige plek in die land kan bepaal.

’n Paar van die elite-atlete van die Boxer-atletiekklub wat reeds hul deelname bevestig het, is Bulelwa Simae, Tanith Maxwell, Elroy Gelant en Thabang Mosiako.

Volgens Simae, wat van die township Mfuleni in Kaapstad afkomstig is, is dit wonderlik dat drawwers steeds die geleentheid kry om aan die wedloop deel te neem.

“Dit gaan net ’n ander soort race wees,” sê Simae.

“Ja, ek het besluit om in te skryf en is terselfdertyd opgewonde en senuagtig, want deelnemers gaan nie dieselfde roete hardloop nie. Sommige het dalk plat roetes, terwyl ander ’n roete met bulte het. Ek sal regtig moet hard werk.”

Volgens Gelant, wat vanjaar aan die Olimpiese marathon in Tokio deelgeneem het, is die wedloop ’n wonderlike inisiatief wat aangepas is by die huidige omgewing. Dit bied broodnodige kompetisie aan atlete.

“Ons is honger om weer te hardloop,” het dié boorling van Pacaltsdorp naby George gesê.

“Ek het tot dusver aan ál die Joburg 10 K Cityruns deelgeneem. Dis altyd ’n aangename er­varing, wat my na aan die hart lê.

Meeding

“Al kan die tradisionele wedloop vanjaar weens die pandemie nie plaasvind nie, ondersteun ek steeds die virtuele weer­gawe.

“Hardlopers van regoor SA sal in hul tuisdorpe kan meeding. Of jy nou in Kaapstad, Johannesburg, Durban of die Karoo woon, jy kan steeds meeding. My doelwit is om in die top-vyf te eindig.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters