9 dae gelede
City, Swallows vol drama
los my! Kgaogelo Sekgota van Swallows (links) probeer City se Craig Martin afskud in ’n Premierliga-stryd in die CT Stadium.Foto’s: BACKPAGEPIX  ~ 

SOOS verwag was daar beslis geen gebrek aan drama en opwinding in gister se Premierliga-stryd tussen Cape Town City en Moroka Swallows nie.

Die spanne het die louere gedeel toe hulle in die Cape Town Stadium met 1-1 gedraw het.

Kgaogelo Sekgota het die high-flying Birds tydelike vreugde besorg totdat Mduduzi Mdantsane vir sy City-span ’n punt ingebring het.

Hoewel City goeie bewegings en aangeewerk gehad het, het die besoekers van Soweto eerste bloed geruik.

Dít het gekom nadat Se­kgota in die 12de minuut te veel ruimte gegee is.

Die linkerpoot het City gestraf met ’n low drive van net buite die doelgebied en dit het Peter Leeuwenburgh geen kans in die City-doelhok gegee nie.

City is beloon vir sy druk, al was dit op omstrede wyse. Die ref, Victor Gomes, het ’n twyfelagtige penalty aan die tuisspan toegeken nadat Njabulo Ngcobo City se kaptein, Thabo Nodada, in die doelgebied neergevel het.

Mdantsane het van die strafkol af geen fout begaan nie en vir die Citizens gelykheid herstel.

Opgevlam

Albei spanne het mekaar in die tweede helfte goed uitgekanselleer – veral in die enjinkamer.

Die wedstryd het in die 65ste minuut opgevlam en ’n dramatiese wending geneem. Gomes het Swallows se defender Junaid Sait gepos vir ’n gevaarlike tackle op City se Bradley Ralani.

Een van Swallows se tegniese lede is ook van die bank gestuur vir ’n woordewisseling met Gomes.

Selfs met ’n speler minder het Swallows goeie kanse geskep, maar sy afronding het hom in die steek gelaat.

City was in die doodsnikke baie gelukkig toe Swallows nie klinies kon afrond nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters