Verlede maand
City jaag Grealish
Jack Grealish  ~ Getty Images

MANCHESTER City is gretig om Jack Grealish van Aston Villa weg te lok en hom die duurste speler in die geskiedenis van die Premierliga te maak.

Dit gons behoorlik dat City die Premierliga-rekord wil breek met ’n aanbod van £100 miljoen (sowat R2 miljard) vir die Villa-kaptein se dienste.

Dit volg nadat City se aanvanklike bedrag van £75 miljoen (R1,5 miljard) deur Villa se grootbase, Nassef Sawiris en Wes Edens, van die tafel gevee is.

Dit sal die huidige rekord van £89 miljoen (R1,8 miljard) oortref wat Manchester United vyf jaar gelede vir Paul Pogba betaal het.

City se manager, Pep Guardiola, soek nuwe en vars talent, veral omdat twee van sy groot sterre, Gabriel Jesus en Bernardo Silva, dalk die Etihad gaan verlaat.

Villa se manager, Dean Smith, is bewus dat Grealish die groot rede is waarom sy span verlede seisoen bo sy verwagtinge in die 11de posisie in die Premierliga klaargemaak het.

Die Villans het die vorige seisoen net-net daarin geslaan om relegasie vry te spring. En Grealish het toe ook ’n groot rol in die span se heldedade gespeel.

Indien City wel daarin slaag om Grealish se dienste vir dié rekordbedrag te bekom, is die kanse goed dat dié rekord ook nie lank sal staan nie.

Sterspeler

City is ook kliphard besig om te vry na Harry Kane van Tottenham Hotspur. Dié span van Londen het reeds aangedui dat hy nie minder nie as £160 miljoen (R3,2 miljard vir sy sterspeler soek.

Die rekord vir ’n transfer van ’n Britse klub, is die £145 miljoen (R2,9 miljard) wat Barcelona in 2018 aan Liverpool vir Philippe Coutinho se dienste betaal het. – AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters