3 maande gelede
Chippa verwelkom digitale administrasie
welgedaan: Glen Minnie (regs) ontvang sy Club Pro-sertiifkaat van MySafa se Jason Anderson.FOTO VERSKAF  ~ 

CHIPPA United is die eerste klub in die Premier-sokkerliga (PSL) wat ’n intekenaar geword het van MySafa Club Pro (MCP).

Dis ’n nuwe digitale registrasieproses van spelers en beloof om klubs se administratiewe werk baie ligter te maak.

Chippa het nou reeds sy ontwikkeling- en Diski Challenge-span geregistreer by Fifa, die wêreldbeheerliggaam van sokker.

Dis deur die MCP-program se integrasie met Fifa se Connect ID gedoen.

Die hoof van talentontwikkeling by Chippa United, Glen Minnie, sê: “Ons sien absoluut die voordele in van MCP.

“In die verlede het ons reserwespan-spelers gehad wat deur ander klubs gesteel is.

Dit was ’n groot kopseer om te bewys dat hulle eers by ons was.”

Minnie sê elke lid wat by die klub geregistreer is, is belangrik.

Hy sê: “As ons nie geglo het dat ons spelers die geleentheid het om professioneel en selfs internasionaal te speel nie, sou ons hulle nie op ons stelsel geregistreer het nie.

Vereis

“Dis daarom belangrik dat ons MCP ’n kans gee, want dis ’n manier waarop ons ons belegging in jong spelers kan beskerm.”

Fifa vereis nou van lidverenigings om elektroniese spelersregistrasiestelsels te voorsien en dit te integreer met sy transfer matching-stelsel.

MCP is die enigste Fifa-geïntegreerde stelsel in Suid-Afrika en tot op datum is meer amateurspelers op hom geregistreer as op enige ander stelsel van sy soort in Afrika.

Minnie sê: “Die owerhede van baie meer plaaslike toernooie vereis nou MCP-kaarte vir deelname, selfs dié buite Safa se strukture.

“Ons Diski Challenge-spelers het nou MCP-kaarte wat hulle sal gebruik vir die Engen Knock­out en enige ander toernooie.”

Minnie meen die Suid-Afrikaanse sokkerklubs moes lankal oorgeslaan het na ’n meer digitale proses om hulle spelers te administreer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters