6 dae gelede
Chippa ‘speel nie sleg nie’
oorlewing is moontlik: Clinton Larsen reken sy span het alles wat hy nodig het om te oorleef in die PSL.Foto: gallo images  ~ 

DIE Chilli Boys se breier, Clinton Larsen, sê hulle Nedbank Cup-semi teen Kaizer Chiefs is net wat die dokter georder het vir oorlewing in die PSL.

Chippa pak Chiefs op 20 April in die Nelson Mandelabaai-stadion. En drie dae later pak hy Mamelodi Sundowns op Loftus Versfeld in die PSL.

Volgens Larsen is die wedstryde wat so kort op mekaar volg beter vir sy span as om te sit en wag vir wedstryde, want dit bou momentum.

Mik

“Ek voel dit gaan ons beter baat in ons geveg teen relegasie om so kort ná mekaar te speel,” het hy gesê.

Chippa gaan dan weer drie dae later, op 26 April, nog ’n groot span, Cape Town City, in die Nelson Mandelabaai-stadion verwelkom.

“Ons mik na oorwinnings, of dit nou in die Nedbank Cup of liga is.

“So, ek is eintlik bly ons kry in dié stadium die kans om teen sulke goeie spanne te speel.”

Larsen reken sy span het die talent om enige span te klop.

“Ons het dit reeds gewys teen Sundowns en Wits. Ons hét die spelers – hulle is vol moed en wil wen.

“Wat teen Wits gebeur het, is maar een van daai dinge.

“Ons was ’n bietjie ongelukkig en kon ook net so maklik gewen het.

“Die ding is, baie van ons vorige wedstryde wat ons verloor het, was ook so.

“Ons speel nie sleg nie – ons kort net daai klein bietjie geluk ­elke nou en dan.”

Chippa het die naweek so ’n bietjie geluk gekry toe albei spanne onder hom – Free State Stars en Maritzburg United – ook vasgeval het.

Dit beteken Chippa bly in die 14de plek, net bo die relegasiesone.

Die vraag is: Hoe lank is dit voordat die spanne wen?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters