3 dae gelede
Chippa se byt bly te min
G’n geluk: Samir Nurkovic skiet vir ’n doel.  ~ Gallo Images

DIE Chilli Boys het weer alles gegee toe hulle Kaizer Chiefs Woensdagaand in die Nelson Mandelabaai Stadion aangedurf het, maar relegasie kruip al hoe nader.

Chippa is steeds op soek na sy eerste oorwinning van die seisoen.

Die Amakhosi het Chippa danksy twee doele van Dumisani Zuma met 2-0 geklop.

Daar was niks fout met Chippa se toewyding nie, maar die Oos-Kaapse Premierliga-span het net nie afgerond nie.

Norman Mapeza, Chippa se breier, sê die span moet net aanhou veg.

“Ek kan – net soos in ons vorige wedstryd teen Mamelodi Sundowns – nie een van die spelers slegsê nie. Ons begin goed teenstand bied.”

Chippa het talle kanse verbrou – en dít nadat hy weens beserings reeds ál sy plaasvervangers in die eerste helfte moes gebruik.

Volgens Mapeza moet hulle net bly glo.

“In hierdie stadium is dit vir ons groot beserings. Dis onduidelik hoe lank die spelers uit sal wees. Ons moet egter net ons koppe lig en aanhou veg. Daar is geen ander opsie nie.”

Chippa het egter nie tyd om sy wonde te lek nie. Hy moet AmaZulu môre in die Princess Magogo Stadium probeer klop.

Oefen

“As ek spelers gehad het, kon ek van hulle vir dié wedstryd laat rus het. Maar ons kan nie. Ek dink nie eens ons gaan voor die AmaZulu-wedstryd oefen nie.

“Ek weet nie hoe dinge by die klub gaan lyk in terme van beskikbare spelers nie, maar ons moet hulle nou kans gee om te rus.”

AmaZulu doen ook nie te wonderlik nie. Hulle het darem drie seges agter hulle naam en is in die 12de plek.

Chippa is ál Premierliga-span wat nog ’n oorwinning soek. Hy is vyf punte agter Baroka en Black Leopards, wat albei nege het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters