11 dae gelede
Chippa heilig oor PSL
Chippa Mpengesi  ~ Gallo Images

OM TWEE Premiersokkerliga (PSL)-spanne in die Oos-Kaap te hê, kan nogal ’n goeie ding wees.

Chippa Mpengesi, die voorsitter van die Baaise PSL-span, Chippa United, hou egter glad nie van dié idee nie.

Dis ná gerugte dat die Nelson Mandelabaai Metro begin vry het na Bloemfontein Celtic om te verhuis na die Baai.

Snaaks genoeg is dit nie die eerste keer dat Celtic se naam genoem is nie.

Celtic en die Metro was al voorheen in gesprek, nog voordat Chippa in die Baai geland het.

Toe hy onlangs waarnemende burgemeester was, het Marlon Daniels die bestuurstyl by Chippa bevraagteken en gesê die span moet beter doen vir die provinsie.

Sy kritiek het natuurlik gevolg nadat Chippa dié seisoen van twee van sy afrigters ontslae geraak het en ’n derde, Norman Mapeza, besluit het om te bedank.

Verhouding

Maar volgens Mpengesi het die klub en die Metro nog altyd rustig om dieselfde vuur gesit.

Mpengesi sê: “Daar was nooit ’n probleem met die verhouding tussen Chippa en die munisipaliteit nie.

“Onthou, die ou wat ’n waarnemende burgemeester was, het ook net namens homself gepraat.

“Hy is die man wat Bloemfontein Celtic hierheen wou bring, maar sy besluit is toe deur die meerderheid afgekeur.

“Hy is ’n tipiese politikus van die Patriotic Alliance, soos Kenny Kunene en die Gayton McKenzie’s van die wêreld.”

Die Metro-woordvoerder Mthubanzi Mniki sê hulle het geen nuwe onderhandelinge met Celtic begin nie.

Mniki sê: “Ons het ’n ooreenkoms met Chippa, maar ons kan ook nie links en regs sportspanne borg nie.

“Ons hooftaak is diens­lewering en dís waarop ons ons toespits.”

Bernard Petersen, ’n bekende sportkenner van die Baai, meen twee PSL-spanne in die Oos-Kaap is nie ’n slegte idee nie.

Petersen sê: “Ons sal twee keer soveel PSL- en Diski-wedstryde hê.

Talent

“Dit sal die jeug ook nóg ’n moontlike uitweg gee om vir ’n professionele sportspan te speel.”

Dit is geen geheim nie dat die Baai baie talent het, veral in sokker.

Petersen sê: “Ons het oor die jare baie sterre opgelewer en ’n tweede PSL-span kan die kweek van nuwe sterre net verder aanhelp.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters