10 dae gelede
Cheetahs verdien bonuspunt-sege teen Griekwas
Foto: GALLO IMAGES
INDRUKWEKKEND: Clayton Blommetjies is as die speler van die wedstryd aangewys.  ~ Foto: GALLO IMAGES

DIE Cheetahs het Saterdag in gure weersomstandighede die laaste Superrugby Unlocked-kragmeting van die kompetisie met 28-9 op ’n sopnat Toyota-stadion in Bloemfontein gewen.

Dit was die eerste en laaste keer in die geskiedenis dat die Cheetahs en Griekwas mekaar in ’n Superrugby-kragmeting die stryd aansê.

Die rustydtelling was 9-8 in Griekwas se guns.

Hawies Fourie (afrigter) se span het altesaam vier drieë gedruk om ’n bonuspunt-sege teen Scott Mathie (afrigter) en sy manne te verseker. Al Is die Bulls voor die afskop reeds as die Superrugby Unlocked-kampioen gekroon, was dié game tussen die twee provinsiale bure steeds belangrik.

Dit is aangesien die punte van die Superrugby Unlocked-kompetisie na die Curriebeker-kompetisie oorgedra word.

Die Poubloues was laas week baie ongelukkig om weens ’n strafdoel van Curwin Bosch in die 82ste minuut teen die Sharks te verloor. Die manne van Bloemfontein  het egter die span van Kimberley Saterdag heeltemal ore aangesit, veral in die tweede helfte.

Die Cheetahs het in die derde minuut van die game gaan score ná briljante spel deur die spoedvraat Rosko Specman. Die Blitsbok het die bal soos ’n wafferse sokkerspeler oor Griekwas se doellyn gedribble.

Al wat Specman moes doen, is om op die bal te val. Sy spanmaat Andisa Ntsila is egter vir sy goeie opvolgwerk beloon. Die losvoorspeler het die bal voor Specman se neus vir die Vrystaters se eerste drie toegeduik.

In die tweede helfte het die tuisspan nog drie keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier.

Die buitesenter Howard Mnisi, die plaasvervanger-skumskakel Ruben de Haas en die woelige losvoorspeler Jeandré Rudolph het almal vyfpunters aangeteken.

Benewens Specman, was sy spanmaat Clayton Blommetjies rotsvas in die laaste vesting onder die hoë bal. Die vlugvoetige heelagter is agterna welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Hy sê oor die span se vertoning: “Ja, die weersomstandighede was vandag baie moeilik. Ons is nie gewoond aan dié eendeweer nie, want ons hou daarvan om die bal lug te gee en hardlooprugby te speel.

Dit was dus belangrik om die balbesit te beskerm en met taktiese skopwerk vorendag te kom.

"Vandag het ons goed aangepas en dit het beslis vrugte afgewerp.” 

puntemakers

CHEETAHS - drieë: Andisa Ntsila, Howard Mnisi, Ruben de Haas, Jeandré Rudolph; doelskop: Frans Steyn; strafdoel: Tian Schoeman (2) 

GRIEKWAS - strafdoele: Tinus de Beer (3) 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters