Verlede maand
#KYK: Charlie se drops steek Roses
Hei jou! Charlie Vraagom, die plaasvervanger-losskakel van Saldanha, word omhels deur Jacquin Jansen, die heelagter, nadat hy ’n skepdoel oorgeklits het.  ~ 

‘N DEURSLAGGEWENDE drie deur Jay-Dee Coetzee en twee skepdoele deur Charlie Vraagom het Saldanha Saterdag in staat gestel om sy plek in die Boland Groot Uitdaagbeker-eindstryd te bespreek.

Saldanha het Roses United, sy nemesis van die laaste jare, voor ’n reuse-skare met 26-16 geklop.

Roses was rustyd met 13-10 voor.

Die Rose het soos ’n koeël uit ’n geweer weggespring met Dean Jacobs (heelagter) wat gaan druk het ná ’n goeie agterlynbeweging vanaf die eerste fase.

Jacquin Jansen, Saldanha se heelagter en voormalige Roses-staatmaker, het met ’n strafdoel geantwoord.

Die eerste helfte is gekenmerk deur talle hanteerfoute en Keagan September (Roses-losskakel) se skop battle met Jansen.

Die jong September het in die eerste helfte nie ’n voet verkeerd gesit nie. Hy het beïndruk met sy lang lynskoppe en stelskopwerk.

Roses het groot dele van die eerste helfte oorheers. Kort voor rustyd het hulle ’n drie afgestaan. Dit het die momentum na die Weskussers geswaai.

Keerpunt

Saldanha het ná lemoentyd meer begeesterd voorgekom. ’n Jansen-strafdoel het sake op 13-13 te staan gebring voordat Vraagom (plaasvervanger-losskakel) terug in die pocket gelê en ’n skepdoel oorgeklits het.

September se penalty het sake weer gelyk gemaak op 16-16.

Die keerpunt in die wedstryd was in die 70ste minuut toe Emile Booysen (flank) ’n bres vir Saldanha in die middelveld geslaan het.

Hy is deur Roses se Johnwen Lewis gestuit, maar het ’n aangee in die tackle weggekry na ’n aanstormende Coetzee (senter), wat onder die pale gaan afrond het.

Jansen het die ekstras bygevoeg.

Vraagom het in die 76ste minuut die spyker in Roses se doodskis geslaan met nog ’n skepdoel. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters