6 dae gelede
CEO te haastig
Ari Efstathiou  ~ Backpagepix

AJAX Cape Town se CEO, Ari Efstathiou, wil nou maar net nie uit sy verlede leer nie.

’n Mens sou verwag dat die Tendai Ndoro-kwessie vir Efstathiou-hulle genoeg van ’n eye-opener sou wees, maar dis duidelik nie die geval nie.

Dis omdat Efstathiou nou weer die wa voor die perd wil inspan deur Mamelodi Sundowns se Aubrey Ngoma en Lucky Mohomi na Ikamva te probeer lok vir volgende seisoen.

Die Urban Warriors is tans bo-aan die Eerste Liga-punteleer.

Hulle was op koers om promosie na die Premierliga (PSL) te wen toe die Covid-19-pandemie die wêreld tref.

En met só baie onsekerheid wat sokker tans in die gesig staar weens Covid-19, is Ajax se Griekse baas weer besig met onverantwoordelike en onverskillige besigheid wat die transfer targets betref.

Daar is soveel boxes wat eers getick moet word voordat Efstathiou dit kan oorweeg om sy span te versterk.

Eerstens moet daar gevra word hoe seker hy is dat die PSL die seisoen gaan afhandel en dat Ajax promosie gaan wen na die PSL?

Hoe seker is hy Ajax Amsterdam, wat 51% in Ajax Cape Town besit, nie hom en sy twee broers, wat die res van die 49% besit, sal uitkoop nie?

Hoe seker is hy dat Ngoma en Mohomi by Ajax se coach se planne sal inpas? Gaan hy volhard met sy tydelike afrigter, Calvin Marlin, vir die nuwe seisoen?

Dis alles moontlikhede wat Efstathiou se planne in die wiele kan ry.

Boonop is daar twyfel of Ngoma en Mohomi die geskikste twee spelers is vir Ajax.

Die duo het maande laas gespeel. En as die skuif wel gebeur, moet ’n mens jou afvra of hulle vir die regte redes kom.

Ajax se huidige groep het die nodige talent, maar dis leiers wat die span van Parow benodig vir die toekoms – nie spelers wat by ander klubs oor die hoof gesien word nie.

Dis duidelik Efstathiou se desperaatheid vir gedugte talent is weer besig om hom te verblind – en dít boesem nie baie vertroue in by die klub se fans nie.

“Jy kan enige van Sundowns se spelers vat,” het Efstathiou via ’n Zoom-nuuskonferensie aan joernaliste gesê.

“Die trick met Sundowns-spelers is of hulle wel van een klub na die ander wíl skuif. En of jy hul salaris kan bekostig, want hulle is gewoonweg uit jou range,” het hy gesê.

“Dis belangrik dat ons nou veg vir promosie en nie dink ons groep is sterk genoeg om mee te ding nie – ons is nie.

“Ek dink ons kort 6 of 10 spelers in die groep, en van dit is belangrike posisies.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters