4 maande gelede
Caster ver van klaar
Caster Semenya  ~ Gallo Images

CASTER Semenya sal nie ophou hoop dat sy eendag weer aan internasionale atletiekbyeenkomste kan deelneem nie.

Semenya het Dinsdag gehoor sy sal voortaan dwelms moet gebruik as sy aan wedlope van 400 m tot ’n myl wil deelneem.

Volgens Wêreldatletiek-riglyne wat laas jaar ingestel is, sal die tweemalige Olimpiese kampioen middels moet gebruik om haar natuurlike testosteroonvlak te verlaag as sy aan haar gunsteling-item, die 800 m, wil deelneem.

Gehandhaaf

Semenya het appèl aangeteken teen die beslissing van die beheerliggaam vir atletiek. Die federale hooggeregshof in Switserland het dit Dinsdag van die hand gewys.

Die arbitrasiehof vir sport se uitspraak laas jaar oor vrouehardlopers met verskille in hul seksuele ontwikkeling word dus gehandhaaf.

Nadat die uitspraak aangekondig is, het Semenya getwiet: “Chill, my mense, ’n man kan die reëls verander, maar dieselfde man kan nie my lewe regeer nie.

“Wat ek sê, is: Al het ek in dié saak teen hulle misluk, is die werklikheid dat ek hierdie stryd lank gelede gewen het.

“Kyk terug op my prestasies, dan sal jy verstaan. Deure is dalk nou toe, (maar) dis nie gesluit nie.”

Dié goue­medaljewenner in die 800 m by die Olimpiese Spele in 2012 en 2016, het in Maart gesê sy gaan al haar aandag nou op die 200 m toespits.

Dit is ’n afstand waarin sy mag deelneem sonder om die medikasie te neem wat haar natuurlik hoë testosteroonvlak verlaag.

Semenya het vroeër vanjaar in Suid-Afrika aan die 200 m deelgeneem met die oog op kwalifisering vir die Olimpiese Spele. Dit was voordat vanjaar se Spele uitgestel is.

“Ek is baie teleurgesteld oor hierdie uitspraak, maar weier dat Wêreldatletiek my gaan forseer om dwelms te gebruik om my te verhinder om te wees wie ek is,” het Semenya luidens ’n verklaring van PA Media gesê.

“As vroue-atlete uitgesluit word of ons gesondheid in gevaar gestel word as gevolg van ons natuurlike vermoëns, plaas dit Wêreldatletiek aan die verkeerde kant van die geskiedenis.

“Ek sal aanhou veg vir die menseregte van vroue-atlete, op en van die baan, totdat almal kan hardloop soos ons gebore is.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters