8 maande gelede
Caster jag 200-goud
Caster Semenya  ~ Gallo Images

CASTER Semenya beoog om geskiedenis te maak noudat sy voortaan ál haar aandag op die 200 m-naelloop gaan toespits.

Semenya is ’n tweemalige Olimpiese kampioen en driemalige wêreldkampioen in die 800 m en sy is vasbeslote om dieselfde hoogtes in die 200 m te bereik.

Die wêreldbeheerliggaam vir atletiek (IAAF) het haar verbied om aan die 800 m deel te neem omdat hy glo haar testosteroonvlakke is te hoog vir ’n vrou.

Die IAAF meen dit bied haar ’n onregverdige voordeel oor ander vroue-atlete.

Verdedig

Die middelafstand-atleet mag dus nie aan wedlope van 400 m tot die myl deelneem nie.

Dit beteken sy mag nie al haar titels oor haar gunsteling-afstand, die 800 m, verdedig nie. Semenya mag ook nie deelneem aan die 1 500 m en myl nie.

Sy is dus verhinder om aan laas jaar se Wêreldatletiek­byeenkoms in Doha deel te neem.

Die IAAF se reëls is egter nie van toepassing op nael­lope soos die 100 m en 200 m nie.

Semenya sê sy gaan nie meer stres oor beslissings deur die IAAF waaroor sy geen beheer het nie en daarom gaan sy voortaan uitsluitlik op die 200 m fokus.

In ’n video wat Atletiek Suid-Afrika (ASA) Woensdag uitgereik het, sê sy: “Ek het altyd geweet ek is ’n atleet met krag.

“Ek kan alles van 100 m tot ’n marathon doen. Ek is geseën met krag, spoed en uithouvermoë.

“In die 200 is daar tegniese goed wat bemeester moet word. Jy moet leer om baie vinniger weg te spring, deur die draai te gly en jou knieë heeltyd hoog te lig.

“Ek geniet dit om 200 m te hardloop en wens ek kon reeds op die ouderdom van 12 begin het. Wie weet waar ek nou kon gewees het?

“In dié stadium is ek nie bekommerd oor die tyd wat ek in die 200 hardloop nie. Ek hardloop reeds 23,49 sek. en ek is vol vertroue dat ek dit mettertyd gaan verbeter.

“My doelwit is om in die Europese seisoen deel te neem. Daar is die wentye so 23,05 sek.

“Die oorgang van uithouvermoë na spoed gaan nie maklik wees nie. Ek werk daagliks baie hard en oor drie maande kan dit heeltemal ’n ander storie wees.

“Ek weet ek kan weer geskiedenis maak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters