27 dae gelede
Canes sweet vir hul sege
Kobus Van WykFoto: gallo images  ~ 

DIE Wellington Hurri­canes moes hard werk om die Otago Highlanders te klop en ’n sege van 17-11 aan te teken in hul Superrugby Aotearoa-stryd in Wellington.

Die Hurricanes het in die tweede helfte nog met 17-0 voorgeloop en meer as 66% van die balbesit gehad voordat die Highlanders wakker geskrik het.

Die besoekers was so naby aan ’n onwaarskynlike sege, maar het in die doodsnikke hul eie ingooi in ’n lynstaan verloor, wat die Hurricanes net genoeg tyd gegee het om tot die einde uit te hou.

Die drie drieë teen die een van die Highlanders was net-net genoeg vir die Hurricanes.

Met dié uitslag het die Canes ook die Highlanders verbygesteek. Hulle is nou derde op die puntelys.

Dit is nou halfpad deur dié kompetisie van die Suidelike Halfrond met sy vyf Nieu-Seelandse spanne.

Die onoorwonne Canterbury Crusaders, die afgelope drie seisoene se Superrugby-kampioen, is die weghol-voorloper met ’n sege van 26-15 oor die voorheen onoorwonne Auckland Blues.

Wenlose

Dit het hulle Saterdag op 18 punte geplaas met ’n perfekte oorwinning wat dit vier uit vier maak.

Die Blues het 12 punte, gevolg deur die Hurricanes met 8, die Highlanders met 6 en die wenlose Waikato Chiefs met 3.

”Dit was groot vir ons,” het TJ Perenara, kaptein van die Hurricanes, gesê.

Perenara het toegegee daar is steeds probleemareas wat aandag moet kry. Hy sê die bal word veral slordig omgekeer.

Hy sê: “Waarna ons sal kyk, is dat ons baie strafskoppe weggee waarmee spanne ons seermaak.”

  • Puntemakers: HURRICANES – drieë: TJ Perenara, Kobus van Wyk, Devan Flanders; doelskop: Jordie Barrett. HIGHLANDERS – drie: Aaron Smith; strafskoppe: Mitch Hunt (2).
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters