13 dae gelede
Canelo: GGG nie ’n opsie
PEPER HOm! Canelo Álvarez in ’n openbare oefensessie. Foto: GETTY IMAGES  ~ 

CANELO Álvarez stel nie belang in nog ’n rematch met Gennady (GGG) Golovkin nie.

Dit het die WBA- en WBC-middelgewigkampioen duidelik gestel in ’n onderhoud met Azteca 7.

Álvarez het gepraat nadat Golovkin die naweek bloed gesweet het om Sergiy Derevyanchenko met punte oor 12 rondes om die vakante IBF- en IBO-titel te klop.

Kies

Die Mexikaan sê hy soek nuwe uitdagings in sy loopbaan.

“Nee, ek stel beslis nie in ’n derde geveg teen Golovkin belang nie. Wat het hy bereik sedert ons laas teen mekaar geboks het? Absoluut niks nie.

“Ek is die een teen wie almal wíl boks. Ek kan nou kies en keur.

“Ek het al twee afdelings opgeskuif, terwyl sy teenstanders hulle vorige gevegte verloor het.

“Nee, hy is geensins meer ’n bedreiging nie.

“Ek het hom reeds geklop. Ek het hom 24 rondes gegee en hy kon my nie klop nie. So, wat gaan hy in ’n derde kragmeting vermag?

“Ek het ook reeds met my promotor gesels. Ek soek nuwe uitdagings,” het Álvarez gesê.

Die eerste geveg tussen Golovkin en Álvarez het gelykop geëindig, waarna Álvarez die rematch naelskraap gewen het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters