Verlede maand
#KYK: Callies melk Darling in semi
LANDING: Lorenzo Swart van Caledon duik oor vir ’n drie.  ~ Mark Ward

CALEDON het Darling Saterdag gemaklik geklop in ’n Boland Groot Uitdaagbeker-halfeindstryd.

Callies het die wedstryd in die Boland Stadion in Wellington met 42-33 gewen nadat hulle rustyd 25-9 voorgeloop het.

Die Overbergers kom Saterdag teen die gunsteling, Saldanha, op dieselfde veld te staan.

Eerste

Die Weskussers sal egter ’n fout begaan as hulle Callies onderskat.

Darling het eerste punte aangeteken toe Earl Lewis (vleuel) ’n strafdoel behaal het.

Callies se Dean Petersen het egter teruggekap met ’n penalty van sy eie.

Callies het die sluise daarna oopgedraai en in die eerste helfte vier drieë gedruk.

Ná Petersen se eerste strafdoel het hy sy radar verloor. Hy het net een van die drieë verdoel en ’n paar strafdoele gemis.

Darling het ná rustyd verwoed aangeval en is beloon met twee drieë, wat gedruk is deur Morné Snyders en Shaun de Waal.

Dit het die telling op 25-21 te staan te bring.

Twee van Callies se uitblinkers, Stephan Fourie (haker) en die hotstepper Lorenzo Swart (heelagter), het egter kort ná mekaar drieë gaan druk.

Dit het die wind uit die seile van die Melkmanne geruk.

Darling se Lood Lingeveldt en John Samuels het ook drieë gedruk, maar teen dié tyd was Callies se een voet al in die finaal.

Kersie

Callies se Boland Kavalier-voorryman Clarence van Wyk se stormloop-drie teen die einde was die kersie op die koek.

Behalwe Fourie en Swart het PJ Bester (senter) en Carl Swarts (stut) ook vir die groen-en-goud uitgeblink.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters