3 dae gelede
Bure cup dit uit
Gereed: Die kapteins in die reeks is van links Randall Wagenaar (Sentraal-Karoo), Vaughan Avery (Knysna), Jan Boer (Kannaland), José Julies (Bitou), Hennie Baartman (SWD-president), Anver Venter (Oudtshoorn), Keanan Tarentaal (Hessequa), Shario Rosenkrantz (Mosselbaai) en Xavier Scholtz (George).  ~ Foto Verskaf

ENIGE eindstryd, veral in rugby, is maar altyd soos om die Lotto te speel: Dis bloot onvoorspelbaar.

Die eindstryd van die ses weke lange Municipal Cup is geen uitsondering nie.

Ag munisipaliteite van die Tuinroete Distriks­munisipaliteit het aan die reeks deelgeneem. Dit kom môre op die Albertinia-sportterrein tot ’n einde.

Dit is hier waar Mosselbaai sy buurman George in die Cup final die stryd sal aansê.

Die Mosselbaaiers het boaan die punteleer geëindig. George is tweede.

In die Shield final wil die Sentraal-Karoo se manne die lyn in die sand trek wanneer hulle Bitou pak.

Blootstelling

Hennie Baartman, president van die Suidwestelike Distrikte Rugbyunie, dink die reeks was suksesvol.

“In terme van ontdekking van talent is dit ’n reuse­sukses. Die sport het ook groot blootstelling en ondersteuning gekry.

“Dit is ’n groot hupstoot vir ons ontwikkelingsprogramme,” verduidelik Baart­man.

Die reeks is ’n loodsprogram van SA Rugby.

Dit word in samewerking met die onderskeie munisipaliteite georganiseer.

Die hoofdoel is om talentvolle spelers van veral laer ligas blootstelling te gee.

Ankerspelers

Eddie Myners, afrigter van die SWD-Arende, sê hy is opgewonde oor die magdom talent wat hy gedurende die reeks onder oë gehad het.

  • Intussen sal die span van George sonder een van sy ankerspelers moet klaarkom. Die sterk, woelige losvoorspeler Freginald Africa het vroeër die week die Suid-Kaap verlaat om hom by die Spaanse klub Eibar aan te sluit.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters