Verlede maand
Bulls te sterk vir 14-man WP
CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - JULY 30: Cornal Hendrick
DIS LEKKER: Cornal Hendricks gee die kamera 'n thumbs up tydens die afrond van sy drie.  ~ Ashley Vlotman

DIE Westelike Provinsie se rugbyspan moes Vrydagaand op Nuweland met 14 spelers vir meer as die helfte van die wedstryd klaarkom en het uiteindelik hul Curriebeker-wedstryd teen die Bulls met 13-34 verloor.

Scarra Ntubeni, WP se ervare haker is net voor rustyd met ’n rooikaart van die veld af beveel ná ’n gevaarlike hoogvat op Zak Burger, die Bulle se skrumskakel.

Egon Seconds, die TMO en ’n voormalige WP-vleuel, het beslis Ntubeni se duikslag was hoog en gevaarlik. En omdat dat daar volgens Seconds nie deur Burger in die kontaksituasie gesak is nie, was daar dus nie versagting vir Ntubeni nie.

Vroeër het die skeidsregter Cwengile Jadezweni se fluitjie vir die afskop nog in die leë stadion weerklink toe die WP se Paul de Wet (skrumskakel) gaan druk het ná ’n breekslag deur Johan du Toit (flank).

Die vreugde was egter van korte duur aangesien David Kriel, die Bulle se linkervleuel gaan afrond het danksy ’n akkurate, lang aangeë deur Johan Goosen (losskakel).Johan Grobbelaar (haker) het ’n fout by ’n WP-lynstaan uitgebuit en gaan druk sonder dat ’n hand op hom gelê is.

WP se Tim Swiel en die Bulle se Goosen het onderskeidelik twee en een strafdoel behaal wat die rustydtelling op 17-13 in die guns van die besoekers te staan gebring het.

WP met sy veertien spelers het moedig in die tweede helfte probeer maar Goosen het sake vir die Bulle beheer. Zak Burger en Cornal Hendricks se drieë in dié tydperk het die bonuspunt vir die Bulle verseker.

Hulle beklee nou die eerste plek op die punteleer terwyl die Kapenaars in vyfde plek is.

Grobbelaar is as die speler van die wedstryd aangewys.  

Puntemakers:

WP - drie: Paul de Wet; doelskop: Tim Swiel;  strafdoele: Swiel (2)

BULLS - drieë: David Kriel, Johan Grobbelaar, Zak Burger, Cornal Hendricks; doelskoppe: Johan Goosen (3), Chris Smith (1); strafdoele: Goosen (2)

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters