10 dae gelede
Bulls kry welverdiend Superrugby Unlocked-kroon
Kurt-lee Arendse
Kurt-lee Arendse  ~ verskaf

DIE Bulls van Jake White (afrigter) en Duane Vermeulen (kaptein) het Saterdag klaarblyklik die voet van die pedaal af gehaal, maar uiteindelik genoeg gedoen om hul Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Pumas met 21-5 op Loftus Versfeld te wen.

Die Pretorianers was deurlopend die beste span in die reeks en is welverdiend as kampioen gekroon.

Die Bulls was ná 25 minute reeds 21-0 voor ná drie verdoelde drieë deur Kurt-Lee Arendse (vleuel), Chris  Smith (losskakel) en Ivan van Zyl (skrumskakel). ’n Aanduiding van die tuisspan se oorheersing was die rustyd-statistieke dat die Bulls 72% van die balbesit en 77% van die gebiedsvoordeel geniet het.

Hulle het ook die vaste fasette gedomineer met veral die stutte Trevor Nyakane en Jacques van Rooyen aan die spits. Marco van Staden was ook baie woelig by die afbreekpunte.

Die Bulls kon ná die aanvanklike blitzkrieg nie weer punte aanteken nie en het lemoene gaan geniet met ‘n voorsprong van 21-0. Jimmy Stonehouse (afrigter) se manne het in die tweede helfte meer begeesterd voorgekom en was die beste span op die veld in dié periode. 

Die Pumas het hul eerste punte in die tweede helfte aangeteken toe hul haker ná ’n rolmaalbeweging van ’n lynstaan af gaan afrond het.

Die besoekers van Nelspruit was totaal en al ’n nuwe span in die tweede helfte en sal hoop om daai vorm oor te dra na die Curriebeker wat volgende naweek begin.

“Ons manne het ’n gebrek aan konsentrasie gehad,” erken Vermeulen ná afloop van die wedstryd.

“Ons wil die ondersteuners bedank, veral vir hul ondersteuning in dié moeilike tyd. Ons wil nou net vanaand geniet.” 

Van Rooyen is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

puntemakers

BULLS - drieë: Kurt-Lee Arendse, Chris Smith, Ivan van Zyl; doelskoppe: Smith (3)

PUMAS - drieë: HP van Schoor

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters