5 dae gelede
Bucs seil oor Stellies
Vat so!: Kwame Peprah (regs) van Orlando Pirates se skoot word afgeweer deur Stellies se Zitha Kwinika, met Alan Robertson wat toekyk.  ~ BACKPAGEPIX

STELLENBOSH FC se gesukkel op sy tuisveld sal sekerlik dié span se bestuur kopsorge besorg.

Steve Barker (afrigter) se span, wat steeds die tweede posisie op die Premierliga-punteleer beklee, het gister in die Danie Craven Stadium met 0-3 teen Orlando Pirates vasgeval.

Dit was Stellies se eerste nederlaag in 12 wedstryde in dié seisoen.

Mamelodi Sundowns, die voorloper, is nou die enigste onoorwonne span in Suid-Afrika se topliga.

Maar Stellenbosch kan net homself vir die skok­nederlaag blameer.

Die tuisspan se verdediging was pateties en die spelers se besluitneming was ook nie van die beste nie. En dit het die span van die Eikestad duur te staan gekom.

Stellenbosch het voor die stryd ook twee draws – met 0-0 teen Golden Arrows en 2-2 teen AmaZulu – op sy tuisveld gehad.

In gister se stryd het dit die besoekers van Soweto nie lank gevat om die deurbraak te kry nie.

Collins Ma­kgaka het in die 20ste minuut sukses behaal om die Seerowers die oorhand te gee.

Voordat die tuisspan nog kon regruk, het Deon Hotto Pirates se voorsprong verdubbel.

Die Pirates-speler het Alan Robertson se besluitloosheid net buite sy doelgebied uitgebuit en die bal sekuur verby Sage Stephens, doelwagter van Stellenbosch, gespeel.

Indien Stellenbosch gedink het daar gaan kans wees om in die tweede helfte terug te slaan, het Hotto gou dié planne deurmekaargekrap.

Hotto het skitterend afgerond ná ’n goeie aangee van Makgaka.

Barker se span het gesukkel in die sterk wind en kon net nie aan die gang kom nie. Daar was net geen ritme in die tuisspan se spel nie.

Lof moet egter gaan aan die Buccaneers, wat goeie, positiewe sokker gespeel het.

Volgens Barker kon sy spelers nie die winderige plaaslike toestande tot hul voordeel gebruik nie.

“Ons sal dit maar net op die ken moet vat en aanbeweeg. Ons moet nou net reg maak vir ons volgende wedstryd Sondag.””

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters