7 dae gelede
Brumbies breek Reds se harte in doodsnikke
CANBERRA, AUSTRALIA - AUGUST 01: Mack Hansen of th
Mackenzie Hansen celebrate nadat sy strafskop die game vir die Brumbies gewen het  ~ Getty Images

'N STRAFDOEL van die plaasvervanger Mackenzie Hansen ná die sirene het Saterdag ’n naelbyt-oorwinning vir die Brumbies van 22-20 oor die Reds in ’n Superrugby AU-kragmeting verseker.

Die Reds het tot dusver in ses probeerslae gesukkel om in Canberra met ’n oorwinning uit die stryd te tree.

Met dié sege bly die Brumbies bo-aan die Superrugby AU-punteleer met sewe punte. Die Reds is steeds tweede omdat hulle ’n bonuspunt in dié nederlaag opgetel het.

Die Brumbies was rustyd met 14-3 voor danksy twee drieë van ’n rolmaalbeweging van lynstane deur hul vurige haker, Folau Fainga’a.

Die Reds se dissipline was swak in die eerste helfte. Al wat die besoekers van Brisbane vir hul moeite kon wys was ’n strafdoel van hul losskakel, James O'Connor.

Die span van Queensland het egter na die rustyd met mening teruggeslaan met twee drieë van hul eie. Die groot agsteman, Harry Wilson, het oorgestorm vir sy span se eerste drie in die 42ste minuut. Drie minute later was die flank Angus Scott-Young oor die kalk vir nog ’n vyfpunter.  O'Connor was in die kol met albei doelskoppe en ’n strafdoel wat sy span met 20-14 laat voorloop het.

Nog ’n drie van ’n rolmaalbeweging vanaf ’n lynstaan van die plaasvervanger-haker, Connal McInerney, in die 74ste minuut het die tuisspan weer binne trefafstand gebring. Hansen se strafdoel in die 84ste minuut was egter die spyker in die Reds se doodskis.

Liam Wright, kaptein van die Reds, het sy span se nederlaag agterna as hartverskeurend beskryf.

“Ja, dit was ’n tipiese top of the table clash. Ons het so baie dinge reg gedoen. Ná 80 minute was ons nog met een punt voor, maar ons het net onsself om te blameer, want ons dissipline het ons in die steek gelaat,” het Wright gesê.

“Ons verdediging was goed, maar die strafdoele het die Brumbies in die game gehou. Hulle is ’n span van gehalte wat die druk verwerk en goed teruggeveg het.”

Allan Alaalatoa, kaptein van die Brumbies, het erken dat sy span se oorwinning gevoel het asof hulle uit die tronk ontsnap het.

“Ons moet ons hoed af haal vir Mack (Hansen) wat met die strafdoel geslaag het. Ons moet ook krediet gee aan die Reds wat ons in die tweede helfte onder druk geplaas het. Ek voel ons het great in die eerste helfte gevaar. In die tweede helfte moes ons die heeltyd net verdedig. Ek moet sê ek is baie trots op hoe ons ’n manier gevind het om die game te wen,” het Alaalatoa gesê.

Puntemakers:

BRUMBIES drieë: Folau Fainga’a (2), Connal McInerney; doelskoppe: Bayley Kuenzle (2); strafdoel: Mackenzie Hansen

REDSdrieë: Harry Wilson, Angus Scott-Young; doelskoppe: James O'Connor (2); strafdoele: O'Connor (2)

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters