Verlede maand
Bremner gee pad landuit
Yvette Bremner  ~ Pauline Herman

DIE Suid-Afrikaanse wedrenbedryf is gister tot in sy fondamente geskud met die nuus dat die beleërde Baaise perde-afrigter Yvette Bremner Suid-Afrika sak en pak gaan verlaat.

Luidens die Baaise dagblad The Herald groet Bremner en haar vennoot, Hedley McGrath, nie net die Fairview-renbaan nie, maar ook vir Suid-Afrika.

Gebreek

Bremner se stalle was Donderdagoggend die tweede keer in ’n paar maande die teiken van sowat 200 oproerige en veglustige grooms wat met knopkieries opgedaag en ál 28 haar perde uit die stalle verwyder het.

Een van hulle, Mark The Doorman, is dood nadat hy sy nek in die vlugtog gebreek het. Verskeie ander perde is só beseer dat hulle waarskynlik nooit weer sal kan hardloop nie. Die skade beloop derduisende rande.

Toe Bremner Vrydag in ’n verklaring sê sy gee haar stalle op en sy sal nie weer in die Oos-Kaap afrig nie, het niemand só ’n drastiese stap verwag dat sy ook uit Suid-Afrika sou padgee nie.

Bremner se vertrek is nie net ’n massiewe verlies vir die Baai nie, maar ook vir die hele Suid-Afrikaanse wedrenbedryf.

Na verneem word het Bremner uitnodigings van Australië, Nieu-Seeland, Brittanje en selfs Hongkong gekry.

Dié lande het haar genooi om haar daar te vestig en nuwe stalle te open.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters