2 jaar gelede
Branco: Tyd loop uit
onder druk: Branco du Preez moet wys hy is nog een van die beste skrumskakels en sweepers in sewes­rugby. Foto: gallo images  ~ 

BRANCO “Bibo” du Preez sal vanjaar in sewes­rugby se Wêreldreeks ’n massiewe state­ment moet maak.

Die spel van die 28-jarige skrumskakel en sweeper van die Springboksewesrugbyspan het in die laaste seisoen agteruit begin boer.

Maar die breiers van die Blitsbokke het gewys hulle het nog genoeg geloof in Bibo om die hoogtes te bereik wat vroeg in sy loopbaan van hom een van sewesrugby se mees belowende sterre gemaak het.

Du Preez speel dié naweek in sy 62ste Wêreldreeks in Dubai, waar die Blitsbokke gaan poog om hulle titel suksesvol te verdedig.

Met 1 162 Wêreldreekspunte agter sy naam is Bibo tweede op die rekordlys van puntemakers vir die Blitsbokke.

Cecil Afrika (1 430) hou die rekord as die Blitsbok met die meeste punte.

Du Preez het in sy amper dekade lange Blitsbok-loopbaan baie teleurstellings beleef.

Sy grootste hartseer sal sekerlik wees toe Neil Powell, Blitsbok-afrigter, hom in 2016 nie vir die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro) gekies het nie.

Hy het in die aanloop tot die Spele van ’n ernstige skouerbesering herstel. Sy terugkeer tot die span in die 2015-’16-reeks was egter nie te watwonders nie. ’n Kniebesering het toe sy kanse op ’n plek in die Olimpiese span tot niet gemaak, met Cheslin Kolbe en Rosko Specman wat as sweeper-skrumskakels gekies is.

Vroeër dié jaar is Du Preez ook misgekyk vir die Blitse se deelname aan die Wêreldbekertoernooi in San Francisco in Amerika.

Maar dié keer was dit nie weens ’n besering nie, maar ’n daling in sy spelpeil – en die talentvolle jong spelers Dewald Human en Selvyn Davids wat hulle kanse aangegryp het.

Bibo se uurglas loop dus vinniger leeg as wat hy dalk verwag het. Hy sal weer moet begin perform soos in die 2016-’17-seisoen as hy wil aanhou span vang.

Die Blitsbokke se veldtog in die Dubai-toernooi skop môre af met wedstryde in groep A teen Zimbabwe, Samoa en Argentinië.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters