9 dae gelede
Branco ken van terugslae
verteenwoordig: Branco du Preez in aksie vir Suid-Afrika by 2018 se Statebondspele op die Australise Gold Coast. Foto: getty images  ~ 

DIS elke sportman en -vrou se droom om eendag iewers in hul leeftyd aan ’n Olimpiese of Statebondspele deel te neem.

Maar hoe gemaak as jy elke keer die speler is wat moet opsy staan en jou droom sien verdwyn?

Branco du Preez, een van Blitsbokrugby se mees ervare spelers, ken dié gevoel alte goed.

“Jy kan in sak en as gaan sit of jy kan sterker geestelik uit jou teleurstelling kom,” het Du Preez in ’n openhartige onderhoud met Son gesê.

“Ek het meer as 100% ingesit om die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië, te haal, maar toe is daar van die 15-mankode se spelers by die span ingesluit en ek moes tuisbly.”

Du Preez (30) is al sedert 2010 ’n Blitsbok en een van die bekendste gesigte in dié span.

Dus was dit vyf jaar gelede ’n groot terugslag toe beserings, wat tot min speelkans gelei het, hom basies van sy Olimpiese droom beroof het.

“Ek kan my steeds nie indink hoe coach Neil Powell moes voel om die nuus oor my weglating persoonlik te deel nie – ek onthou goed hoe ék gevoel het.

Frustrasies

“Teleurgesteld beskryf nie regtig daardie gevoel nie. Ál wat ek toe gesoek het, was die vertroosting wat ek by my ouers in Pacaltsdorp (George) sou kry,” het Du Preez vertel.

By die huis kon die boorling van die Suid-Kaap sy frustrasies, trane en teleurstelling met geliefdes deel en die nodige bemoediging kry om die herlaaiknoppie op sy loopbaan te druk.

Hy het weer ’n gereelde insluiting in die Blitsbokspan geword en die span vir 2018 se Statebondspele in Gold Coast, Australië, gehaal.

Maar toe kom nóg ’n teleurstelling vir die sewes­veteraan. Hy is weggelaat uit die span vir 2019 se Kaapstad-toernooi. Du Preez het egter daarvoor vergoed met ’n heldhaftige vertoning in laas jaar se eindstryd van die Las Vegas-toernooi.

Sy drie en doelskop teen Fidji het bykomende speeltyd afgedwing en die Blitsbokke het in dié tyd gaan druk om die titel te wen.

“Dit is hoekom ek deesdae my teleurstellings wil omskakel om ’n verskil op die veld te maak,” het Du Preez verduidelik.

“Ek het nog nie my droom opgegee om na ’n Olimpiese Spele te gaan nie.

“My passie vir sewes is nog lewend.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters