27 dae gelede
Boost vir sagtebal
Groot planne: Sagtebal SA se president, Mashilo Matsetela, droom groot.Foto: JONATHAN LESTRADE  ~ 

DIT was ’n kwessie van twee vlieë met een klap – ’n professionele Premierliga én ’n groot hupstoot vir sagtebal in die land.

Dié dinge is boaan die prioriteitslys van Sagtebal Suid-Afrika se president, Mashilo Matsetela.

Matsetela het gister op die Turfhall-sportterrein in Athlone gepraat van die opwindende nuwe Premierliga wat dié naweek in die Moederstad beslis word.

Die grootbaas het ook van sy vooruitsigte vir die nasionale spanne met die media gedeel.

Matsetela is opgewonde daaroor dat die nuwe Premierliga mense aan die gons het, veral in die noorde.

Die reeks het in Gauteng reeds vir hope aksie en opwinding gesorg. Van die wedstryde was so close en mededingend, hulle moes oor twee naweke beslis word.

Volgens Ma­tse­tela is dit sommer ’n groot geleentheid vir dié sport.

En hy is baie opgemaak daaroor dat so iets in sy leeftyd gebeur.

“Dis goed om ’n legacy in enige organisasie na te laat,” aldus Matsetela.

“Ek is opgewonde omdat dit ’n eerste is en dit gebeur in my leeftyd,” het Matsetela oor die Premierliga gesê.

Volgens Matsetela is sy organisasie se doel met dié liga om die sport toegankliker te maak.

Dis ook g’n geheim nie dat die sport sedert die koms van demokrasie baie getransformeer het.

“Dis waar ons as die beste federasie benoem is en ons wil dit so hou,” sê hy.

“Belangriker nog, dit ontgin talent uit die plaas­like areas. En jy sal verbaas wees oor die talent wat daaruit kom.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters